On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

South Africa

Likwidateur van Bosasa, Gupta-maatskappye saam met seun vermoor

───   09:07 Mon, 20 Mar 2023

Likwidateur van Bosasa, Gupta-maatskappye saam met seun vermoor | News Article
Cloete Murray, wat Saterdag saam met sy seun, Thomas, in Johannesburg doodgeskiet is. FOTO: BusinessLive

’n Rekenmeester wat hoëvlak-korrupsiesake ondersoek het, is Saterdag saam met sy seun in Johannesburg doodgeskiet.

Die 50-jarige Cloete Murray is deur die hof aangestel as die likwidateur van Bosasa, ’n maatskappy wat by talle staatskontrakskandale betrokke was. Sy seun, die 28-jarige Thomas, was ’n regsadviseur.

Murray sr. het ook as ’n likwidateur gewerk vir maatskappye wat aan die Gupta-broers gekoppel word.

News24 berig dat die polisie ’n verband tussen sy moord en die Guptas se korrupsie-verwante sake ondersoek.

Die Murrays is Saterdag deur onbekende gewapende mans geskiet terwyl hulle in ’n wit Toyota Prado op die N1 na Pretoria onderweg was.

Murray jr. is op die toneel dood terwyl sy pa hospitaal toe geneem is, waar hy later aan sy beserings beswyk het.

Cloete Murray se werk as ’n likwidateur het behels om die bankrekenings van maatskappye wat bankrot verklaar is, te ondersoek, bates terug te kry, en enige misdadigheid aan te meld.

Een van daardie maatskappye was Bosasa, ’n staatskontrakteur wat in gevangenisdienste spesialiseer.

Die Zondo-kommissie het destyds in sy uitspraak tot die gevolgtrekking gekom dat die maatskappy politici en staatsamptenare omvattend omgekoop het om regeringskontrakte te kry tydens die nege jaar-lange presidentskap van Jacob Zuma, van 2009 tot 2018, berig BBC.

In 2018 het pres. Cyril Ramaphosa gesê hy sal ’n skenking van R500 000 van Bosasa terugbetaal. ’n Teenkorrupsie-ondersoeker het bevind hy het die parlement oor die skenking mislei, maar dié bevinding is deur die Hooggeregshof verwerp.

Bosasa het in vrywillige likwidasie gegaan nadat banke sy rekeninge gesluit het.

Murray het ook as ’n likwidateur gewerk vir maatskappye wat aan die Gupta-broers gekoppel is. Die Zondo-kommissie het bevind dat die broers – Ajay, Rajesh en Atul – politieke en ekonomiese besluite tydens Zuma se presidentskap probeer beïnvloed het.

Beloning van R1 miljoen aangebied

Intussen het Forensics for Justice ’n R1 miljoen-beloning aangebied vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisname en skuldigbevinding van die mense agter die Murray-moorde, berig eNCA.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.