South Africa
‘Hofbeslissing ’n oorwinning vir reg op private eiendom’─── 05:37 Thu, 23 Mar 2023
Die Grondwethof het Woensdag Julius Malema en die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) se aansoek om verlof om te appelleer teen ’n interdik wat AfriForum in 2017 verkry het, van die hand gewys.
“Dit beteken dat die interdik wat Malema en die EFF verbied om mense aan te hits om private eiendom te betree en dit onwettig te beset, afdwingbaar is,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte van AfriForum.
Malema het hom tot die Hooggeregshof in Pretoria gewend maar dié hof het in Januarie vanjaar sy aansoek om verlof tot appèl teen die interdik van die hand gewys, wat hom genoop het om die Grondwethof te nader.
“Die implikasies van Malema en die EFF se intense desperaatheid om hierdie grondbesettingsvonnis omver te werp, is kommerwekkend. Hoekom is die EFF so vasbeslote om wetteloosheid aan te blaas?
“Die uitspraak is nog 'n groot oorwinning vir die reg op private eiendom en 'n verwoestende verlies vir diegene wat misdaad en geweld wil aanhits. AfriForum verwelkom die Grondwethof se herbevestiging van die Hooggeregshof se sterk oordeel teen die aanhitsing van grondbesettings,” sê Van Zyl.
