On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

South Africa

SA oumas wys hul skop op die sokkerveld

───   07:17 Mon, 03 Apr 2023

SA oumas wys hul skop op die sokkerveld | News Article
Aksie op die veld tydens die eerste internasionale sokkertoernooi vir vroue ouer as 50 jaar. FOTO: Reuters

Suid-Afrika was onlangs die gasheer van die eerste internasionale sokkertoernooi vir "oumas" wat by die Nkowankowa-stadion in Limpopo plaasgevind het.

Altesame 16 spanne bestaande uit vroue ouer as 50 jaar het deelgeneem, insluitende spanne uit al die provinsies van Suid-Afrika, asook Zambië, Zimbabwe en Mosambiek, terwyl spanne van so ver as Frankryk en die Verenigde State gereis het om te wys wat in hulle steek, berig Reuters.

Die eerste oumasokkerspan, genaamd Vakhegula Vakhegula, het in 2007 in Limpopo “afgeskop”, hoofsaaklik om die gesondheid van ouer vroue in die provinsie te verbeter. Vakhegula beteken “oumas” in Tsonga.

Beka Ntsanwisi van die Beka-stigting, wat die Vakhegula-Vakhegula-sokkerklub begin het, sê die span het al in Amerika, Brasilië, Rusland en Frankryk gespeel, berig die Polokwane Observer.

“Dit gee hulle die geleentheid om te oefen en hul gesondheid te verbeter. Hul bloeddruk en suikervlakke is onder beheer sedert hulle begin sokker speel het.”

Dit het ook gelei tot die stigting van ander oumasokkerspanne regoor Suid-Afrika.

"As dit nie vir hierdie sport was nie, was ek aan 'n rolstoel gekluister," sê doelskieter Flora Baloi (66), wat in 2017 begin speel het nadat sy aan artritis begin ly het.

Sy sê sy het nie meer medikasie nodig nie omdat die oefening haar fisies en geestelik fiks hou. Wanneer sy nie saam met haar span oefen nie, hou sy daarvan om saam met haar man sokker op TV te kyk en tyd saam met haar vyf kleinseuns deur te bring.

"Ons is mal daaroor. Dit beteken so baie vir ons. Dit is 'n gemeenskap, dit maak ons gesond,” sê Mo Kelly (64), wat vir die VSA uitdraf.

Mamaila Rhonaldo Modjadji (80) sê toe hulle begin speel het, het mense vir hulle gelag. “Ons is dankbaar jeens Mama Beka Ntsanwisi wat die moeite gedoen het en ons uit ons huise geneem het om sokker te speel. Vandag word ons wêreldwyd erken danksy haar.”

Sy is trots daarop dat niemand die bal van haar voete kan vat nie. ““Ek is 'n dribbeltowenaar en doelskieter. Ek maak van elke bal wat ek gryp ‘n doel,” sê sy.

SABC News berig dat die toernooi die plaaslike ekonomie ‘n welkome hupstoot gegee het. Planne word beraam om die toernooi elke twee jaar aan te bied.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.