South Africa
Smokkelaar meer beboet as waarde van blink klippies in sy besit─── 20:04 Fri, 07 Apr 2023

’n Jong Namakwalander wat onlangs skuldig bevind is aan die besit van ongeslypte diamante, moet meer opdok as die waarde van die klippies waarmee hy betrap is, of so nie tronk toe gaan.
Die 22-jarige man is die afgelope week in Springbok se streekshof gevonnis vir die oortreding van die Diamantwet, sê Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder.
Noord-Kaapse polisie het in Mei 2022 ’n verdagte voertuig op die Buffelsrivierpad in Namakwaland opgemerk wat blykbaar op pad was na Springbok vanaf ’n bekende onwettige diamantgebied.
Beamptes het die voertuig deursoek en agt steentjies wat soos diamante gelyk het in David Makatees se besit gekry. Die vonds is later getoets, toe vasgestel is dit is inderdaad 1,3 karaat se diamante met ’n geskatte waarde van R8 843.
Nadat die Valke die saak oorgeneem en verder ondersoek het, is Makatees op 30 Januarie vanjaar gedagvaar om in die hof te verskyn. Hy is skuldig bevind en ’n boete van R10 000 of drie jaar tronkstraf opgelê.
Kaptein Paul Swartbooi van die Namas in Namakwaland meen die aard en erns van die oortreding regverdig nie so ’n straf nie. Makatees moet, tensy hy tronkstraf wil uitdien, ’n boete betaal wat meer beloop as die waarde van die diamante.
Swartbooi wonder wat word van items soos onwettige diamante en vetplante waarop die polisie beslag lê wanneer hulle vermeende oortreders in hegtenis neem.