South Africa
Polisie ondersoek opnuut dood van AKA se eksverloofde─── 14:39 Mon, 15 May 2023
Die polisie begin met 'n nuwe ondersoek na die dood van die vermoorde rapper AKA se eksverloofde, Anele Tembe, beter bekend as Nelly.
Sy is dood nadat sy twee jaar gelede glo van die balkon van Pepper Hotel in Kaapstad “geval” het ná ’n onderonsie met Kiernan Forbes (die rapper AKA). Hy is die naweek postuum vereer met verskeie toekennings van die Metro FM Music Awards in Mpumalanga.
Die musikant, wat buite die Wish-restaurant in Floridaweg in Durban doodgeskiet is – in wat sommige glo ’n sluipmoord was – het aanvanklik aan die polisie gesê Tembe, die dogter van die KwaZulu-Natalse sakeman Moses Tembe, het na haar dood gespring nadat hulle gekuier en in dié luukse hotel geargumenteer het.

Anele Tembe FOTO: Gepubliseer deur Ashleigh Neft
Haar familie glo AKA het haar ná hul gewelddadige gestryery van die balkon afgestoot. In Junie 2022 het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier om AKA te vervolg.
Sunday World het egter Sondag onthul 'n ondersoek is heropen nadat haar familie verdere vertoë aan die NVG gerig het en hulle oortuig het dat daar ’n moontlikheid van ’n misdaad is wat tot hul dogter se dood gelei het.
Nuus van die nuwe ondersoek het na vore gekom nadat AKA se ouers verlede week deur die polisie ingelig is dat Tembe se saak herondersoek word. “Hulle is iewers verlede week meegedeel dat die dossier teruggestuur is na die polisie vir ondersoek en dat 'n geregtelike doodsondersoek heropen is,” sê die bron.
Women For Change het die nuus verwelkom en beweer dat Anele se stem nou gehoor sal word.
Die stigter van Women For Change, Sabrina Walters, het aan The South African gesê haar familie verdien om te weet hoe hul dogter gesterf het.
“Terwyl ons voel dat Suid-Afrika aan ‘kollektiewe geheueverlies’ ly oor wat op 11 April 2021 met Anele Tembe gebeur het, is ons steeds diep seergemaak deur hierdie verskriklike voorval. Ons verwelkom dus die besluit dat hierdie saak herondersoek sal word.
“AKA het 'heldestatus' verwerf nadat hy vanjaar vermoor is. Baie het vergeet van die tragiese heengaan van sy verloofde twee jaar gelede, asook die aantygings van mishandeling. Nellie se storie is oorskadu deur hierdie heldeverering, maar ons sal nie van haar vergeet nie. Ons sal haar stem wees en veg vir haar geregtigheid.
“Soveel vrae bly onbeantwoord oor hoe Nellie se naakte liggaam voor die Pepper Club Hotel beland het. Hoekom is die ondersoek die eerste keer gesluit? Waarom is getuieverklarings geïgnoreer? Hoekom het Nellie se familie tot vandag toe geen antwoord oor hoe hul kind dood is nie?”
AKA het ontken dat hy die aspirant-sjef mishandel het. Hy het egter erken dat hul verhouding nie perfek was nie en dat hy haar dalk by tye emosioneel mishandel het.
