South Africa
Malema waarsku in BBC-onderhoud anargie is Suid-Afrika se voorland─── 08:00 Thu, 25 May 2023
Suid-Afrika ondervind elke dag beurtkrag en daarom het Julius Malema, leier van die EFF, sy bewering herhaal dat die land se kragnetwerk besig is om in duie te stort.
Malema het Woensdag in die BBC-program HARDtalk aan Stephen Sackur verduidelik dat anargie, plundering en ’n leierlose rewolusie sal plaasvind as dit gebeur.
Malema sê hy wil nie hê dié scenario moet realiseer nie, maar hy glo ’n landwye ineenstorting van die kragnetwerk is onvermydelik en sal tot chaos in die land lei.
Economic Freedom Fighters’ @Julius_S_Malema warns of anarchy, looting and leaderless revolution if South Africa’s power grid collapses
— BBC HARDtalk (@BBCHARDtalk) May 24, 2023
‘I’m not wishing it, I’m saying it’s going to happen,’ he says pic.twitter.com/7DGFw17ddf
“Ek sê vir jou, daar gaan ’n rewolusie wees. Laat die kragnetwerk ineenstort en kyk wat met hierdie land gebeur. Ek wens dit nie, maar ek sê dit gaan gebeur en jy sal sien wat gaan gebeur.
“Dink jy sodra die kragnetwerk ineenstort, gaan mense skielik rose met die regering uitruil? Mense gaan opstaan en wanneer hulle opstaan; daar sal geen leier wees wat hulle sal lei nie. Hulle sal leierloos wees, daar sal anargie, en plundering oral in hierdie land wees, want niks sal werk nie,” sê Malema.
Die EFF-leier verskaf nie enige bewyse om sy beweringe te staaf nie. Hy het verlede week in Johannesburg ’n soortgelyke waarskuwing aan die media gerig.
Hy sê oor twee weke sal die hele Suid-Afrika in algehele duisternis wees. “Dit is ’n werklikheid waarvan Suid-Afrikaners moet weet en die ANC gaan net aan asof ons nie in ’n krisis is nie. Ons is in ’n diep, diep, diep krisis,” het Malema vroeër gesê.
Eskom het egter sy bewerings in ’n mediaverklaring ontken en die versekering gegee dat maatreëls getref is om die kragnetwerk te beskerm.
“Die netwerk ondervind nie ’n hoër of dreigende risiko van ’n ineenstorting nie en dit sal ’n onvoorsiene en skielike opeenvolging van gebeure moet wees voor dit landwyd sal gebeur.
"Eskom het gebeurlikheidsplanne om dit te kan hanteer,” het die sukkelende kragverskaffer gesê.
Malema sê in die BBC-onderhoud hy oordryf nie en wil nie paniek saai nie, al wat hy wil doen is om die waarheid praat.
Hy het die opmerkings wat Eskom se bestuur en direksie verlede week aan die media gesê het, aangehaal en burgers gewaarsku om voor te berei vir fase 8-beurtkrag hierdie winter.
Malema sê die waarskuwing van Eskom was bedoel om Suid-Afrikaners voor te berei vir ’n moontlike ineenstorting van die kragnetwerk.
“Ek oordryf nie. Ek het dit gesê voordat Eskom vir jou gesê het daar kom ’n fase 8-beurtkrag. Dit is om jou voor te berei dat die ergste aan die kom is, en ek het die waarheid gepraat soos dit is.”
‘We need a government of national unity… to resolve this immediate crisis’ says South African EFF opposition leader @Julius_S_Malema
— BBC HARDtalk (@BBCHARDtalk) May 24, 2023
Defending his March call for nationwide shutdown, he says “that is the most responsible thing to do. Do you want me to fold my hands?’ pic.twitter.com/GO6KLt5F4J
Hy sê Eskom was net “beleefd” oor sy aankondiging van fase 8-beurtkrag want ons gaan dae sonder krag wees.
“Geen ANC-politikus het nog paniekerig geraak? Watter president het jy gesien wat die nasie in sy vertroue neem oor wat werklik aan die gebeur is? Ons hoor van amptenare asof ons nie ’n verkose leierskap in die land het nie.”
South Africa’s EFF leader @Julius_S_Malema says he would arm Moscow because ‘Russia is in a war with imperialism’
— BBC HARDtalk (@BBCHARDtalk) May 24, 2023
‘I will go beyond the friendship with Russia. In the war I will align with Russia and I will even supply the weapons’, he says of Putin’s war on Ukraine pic.twitter.com/YC23xCJljh
