On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

South Africa

AfriForum se eenheid stuit ‘babasmous’ se uitbuitings

───   12:06 Mon, 29 May 2023

AfriForum se eenheid stuit ‘babasmous’ se uitbuitings | News Article
Letitia van den Berg PHOTO: News24/Papi Morake

Byna ’n dekade van misleiding en valse beloftes aan hoopvolle aanneemouers is nou verby, omdat die beweerde babasmous Letitia van den Berg van Pretoria van 39 aanklagte van mensehandel aangekla word.

AfriForum se private vervolgingseenheid het ná verskeie klagtes ingegryp en die owerhede gedwing om aanklagte van mensehandel teen haar te ondersoek. Van den Berg staan ook tereg op aanklagte van bedrog en diefstal.

Dit het begin met ’n klag deur die Leithgöb-familie oor die stadige vordering met die saak teen die beskuldigde. Deur die eenheid se betrokkenheid het die polisie nog verskeie slagoffers van die beweerde bedrogspul geïdentifiseer.

Van den Berg het haar dienste as ’n maatskaplike werker aan die voornemende aanneemouers aangebied, maar hulle moes baie geld in die proses vir haar dienste betaal.  

Daar word beweer dat daar in werklikheid geen kind was om aan te neem of ’n kind aan die hoopvolle ouers aangebied is nie. Die biologiese ma het ook nie toestemming vir aanneming gegee nie. Die oortredings dateer van 2014.

Toe die eenheid die saak aanvaar het, het die polisie net ’n klag van bedrog ondersoek. In Mei 2022 het adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, in ’n brief die ondersoekbeampte geadviseer oor die ernstige aard van die beweerde oortredings.

“Ons is bekommerd dat meer babas verkoop is onder soortgelyke omstandighede soos wat die klaer moes verduur. Die algemeenheid van sulke optrede wek wel ernstige oorweging dat die verdagte se beweerde gedrag vergelyk kan word met, en binne die bestek van mensehandel kan val.

“Dit lyk ook of die verdagte met haar slinkse manipulasie voortgaan weens die kwesbaarheid van kinderlose mense. Beslissende ondersoek en optrede deur die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag is noodsaaklik om, wat blyk te wees, ’n gewoonte bedrieër of handelaar van babas te hanteer,” het Nel gesê.

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê Van den Berg het die kwesbaarheid uitgebuit van paartjies wat graag ouers wou word.

“Voornemende aanneemouers is foto’s gewys van ’n kind wat hulle gehoop en bid het hulle eendag sal aanneem, intussen is dieselfde kind aan ’n ander egpaar belowe wat die kind dan aangeneem het.”

Bateman sê in minstens een geval is aan ’n egpaar gesê die biologiese ma en baba is tydens die bevalling dood.

“Voornemende ouers sou babakamers voorberei en klere vir hul aanneemkinders koop, net om deur Van den Berg in die steek gelaat te word met leuens en verdere misleiding. Hierdie ongelooflike wreedheid het aan Van den Berg honderdduisende rand besorg.”

Die eenheid sal voortgaan om die saak te monitor om te verseker dat geregtigheid geskied.

AfriForum-verklaring


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.