South Africa
VF Plus: Misdaadstatistieke skets beeld van gewelddadige gemeenskap─── 16:57 Tue, 30 May 2023
Vandag se polisiemisdaadstatistieke weerspieël misdadigheid wat die gevolg is van ‘n inkrimpende ekonomie en die desperaatheid van werklose Suid-Afrikaners wat hulle toenemend tot misdaad wend om te oorleef.
Dit skets ook ’n onrusbarende beeld van ’n gewelddadige gemeenskap waar moord en ernstige aanranding aan die orde van die dag is.
In die eerste drie maande vanjaar is 6 289 moorde aangeteken teenoor 6 083 ’n jaar gelede. In die vierde kwartaal (Januarie tot Maart) van die 2018/19-boekjaar, was daar 4 896 moorde, ’n toename van 1 393 vir dieselfde tydperk binne net vier jaar.
Verlede jaar is 27 066 mense vermoor. Dit is 2 256 per maand of 76 elke dag. Daar is meer as drie moorde elke uur van die dag en nag in Suid-Afrika.
Van die 6 289 moorde van Januarie tot Maart vanjaar was 872 weens vigilantisme en boendoehof-geregtigheid (teenoor 350 in die laaste kwartaal van 2019). Vigilantisme word ook as ’n rede gegee vir 1 181 voorvalle van poging tot moord en 16 645 voorvalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Dit dui daarop dat die publiek die polisie al hoe minder vertrou en toenemend die reg in eie hande neem.
Dit is ook duidelik dat die regering se pogings om geweld teen vroue en kinders hok te slaan, klaarblyklik nie suksesvol is nie.
Moord op vroue (969 teenoor 898 ? jaar gelede), poging tot moord (1 485 teenoor 1 222) en ernstige aanranding (15 141 teenoor 15 034) het toegeneem. Misdaad teen kinders toon wel ’n afplatting.
Ander geweldsmisdade wat skerp toegeneem het sedert die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, is poging tot moord (8,3%), aanranding (7,6%), roof (8,9%) en gewapende roof (5,1%).
Die wortels van gewelddadigheid is kompleks en strek tot diep in ’n samelewing. Armoede, werkloosheid en hopeloosheid speel ’n groot rol hierin.
Misdaad soos inbrake, diefstal en vragmotorkapings het ook skerp toegeneem.
Rooftogte by huise, een van die gevreesde trio-misdade, het met 5,9% gestyg sedert die ooreenstemmende tydperk verlede jaar (5 267 tot 5 578). Roof van kontant in transito het met 20,8% toegeneem (53 tot 64) en winkeldiefstal met 20,3%.
Enkele ligpunte is ’n afname in seksuele oortredings soos verkragting (2,8%) en seksuele aanranding (14,9). Motorkapings het met 5,2% afgeneem.
Plaasmoorde het luidens die statistieke afgeneem van 17 moorde in die eerste drie maande verlede jaar tot 8 vanjaar. Hier moet egter in gedagte gehou word dat boere toenemend maatreëls tref om hul eie veiligheid te verseker.
Dit is duidelik dat gewone Suid-Afrikaners toenemend uitgelewer is aan misdaad en dat misdadigers al hoe meer desperaat en gewelddadig raak.
Met ’n polisiemag wat al hoe minder beskerming bied, moet die publiek self groot onkoste aangaan om hulself, hul geliefdes en eiendom te beveilig.
