On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Oorsaak van Gauteng-aardbewing ondersoek

───   14:30 Tue, 13 Jun 2023

Oorsaak van Gauteng-aardbewing ondersoek | News Article
earth quake shefali lincoln unsplash

Die Raad vir Geowetenskappe is besig om te ondersoek of die aardbewing wat groot dele van Gauteng Sondagoggend wakker geskud het, veroorsaak is deur mynaktiwiteite of fluktuasies in grondwatervlakke.

Selfs inwoners in Pretoria het die aardskuddings van die aardbewing gevoel wat 4.4 op die Richterskaal aangeteken het. Boksburg aan die Oos-Rand is geïdentifiseer as die episentrum van Sondag se aardbewing.

Die skuddings het strukturele skade aan sommige geboue verrig, met inwoners reeds besig om versekeringseise in te dien. Ander sê hulle benodig berading.

“Dit was ’n traumatiese ervaring en ek kon nie slaap nie. Selfs nou nog het ek berading nodig,” het een inwoner aan die SABC gesê.

“As dit weer gebeur, sal ek nie kan staan nie, want die struktuur is reeds beskadig. Ek weet nie eens of die versekering sal help nie,” sê nog een.

Die Raad vir Geowetenskappe sê die seismiese gebeurtenis was matig en het bevestig die Oos-Rand was die episentrum. Die Raad se hoofwetenskaplike, Michelle Grobelaar, sê naskokke is gewoonlik kleiner. 

“Aangesien dit ’n 4.4 aardbewing was, is die naskokke aansienlik kleiner en is dit onwaarskynlik dat mense dit sal voel. Maar as hulle dit wel voel, moet hulle nie paniekerig raak nie en die nodige voorsorgmaatreëls tref om veilig te bly,” sê Grobbelaar.

Volgens prof. Ray Durrheim van die skool van geowetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, is die oorsaak van die aardbewing nog onbekend.

“Die presiese oorsaak kan wees as gevolg van meer as ’n eeu se mynbedrywighede in die area. Ons moet nou kyk na die mynhope en bepaal hoeveel rotse uit die grond verwyder is en kenners moet ontledings doen. Hulle sal weldra ’n meer uitvoerige verduideliking kan gee,” sê Durrheim.

Kenners soos die aardbewingspesialis prof. Herman van Niekerk sê groter seismiese gebeurtenisse is wel moontlik in die toekoms.

“Tegnies kom aardbewings voor in ’n gebied waar hulle voorheen voorgekom het, of daar kon ’n nuwe breuk gevorm het. Hierdie energievrystelling veroorsaak aardbewings,” sê Van Niekerk.

Die Johannesburgse- en Ekurhuleni-nooddienste het geen beserings of sterftes aangemeld nie.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.