South Africa
AfriForum verwelkom hofbeslissing oor Suid-Afrikaanse burgerskap─── 13:02 Wed, 14 Jun 2023

Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom die uitspraak wat Dinsdag in die appèlhof gelewer is.
Dit bepaal dat baie Suid-Afrikaners in die buiteland se verbeurde Suid-Afrikaanse burgerskap herstel moet word en dat hulle aan volgende jaar se verkiesing sal kan deelneem.
Die hof het beslis dat Art. 6 (1)(a) van die Suid-Afrikaanse Wet op Burgerskap (Wet 88 van 1995) strydig is met die Grondwet en ongeldig is sedert dit op 6 Oktober 1995 aangekondig is.
AfriForum moedig Suid-Afrikaners in die buiteland aan om in 2024 aan die verkiesing deel te neem.
Dié saak is deur die DA aanhangig gemaak omdat hulle van mening was dat die Suid-Afrikaanse Burgerskapwet ongrondwetlik is. Die DA sê Suid-Afrikaners word wederregtelik van hul burgerskap ontneem wanneer hulle ’n ander burgerskap kry.
Dié uitspraak volg ná ’n nege jaar lange veldtog deur die DA in die buiteland en ’n regstryd van vyf jaar. Dit was in reaksie op baie Suid-Afrikaners wat onwetend hul Suid-Afrikaanse burgerskap verloor het omdat hulle aansoek vir burgerskap in ’n ander land gedoen het.
‘As die stand van Suid-Afrika se politiek en veiligheidsomgewing anders was, sou minder Suid-Afrikaners groener weivelde gaan soek het.’
“Ek wil beklemtoon dat burgerskap belangrik is, dit skep ’n gevoel van behoort en dra by tot iemand se identiteit,” sê AfriForum se hoof van Diaspora, Sue-Ann de Wet.
Dit is betreurenswaardig dat die regering aanhoudend Suid-Afrikaanse emigrante vervreem – soos met die belastingwetsontwerp waarmee hulle net nóg meer geld uit mense wat in die buiteland werk, probeer tap.
“Ons mense in die buiteland is ons beste ambassadeurs en moet gehelp word om hul identiteit te behou. Hulle is ons familie, vriende en ambassadeurs, en ons kan nie bekostig om hulle te verloor nie. As die stand van Suid-Afrika se politiek en veiligheidsomgewing anders was, sou minder Suid-Afrikaners groener weivelde gaan soek het,” sê sy.
AfriForum moedig Suid-Afrikaners in die buiteland aan om in 2024 aan die verkiesing deel te neem.
“Elke kruisie op ’n stembrief maak ’n verskil,” sê De Wet.
AfriForum Wêreldwyd gaan ekspats op die hoogte hou van sake oor die verkiesing. Inligting oor hoe om in die buiteland te stem en watter dokumente nodig is, sal later deurgegee word.
Mediaverklaring