South Africa
Buurtwaglede van 19 tot 65 deeglik opgelei─── 07:48 Fri, 16 Jun 2023
“Ons sal aanhou om ons buurtwaglede van topgehalte veiligheidsopleiding te voorsien,” sê Jacques Broodryk, AfriForum-woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, oor die opleidingskursusse wat dié afdeling die laaste tyd landwyd aanbied.
“Ons sien eerstehands die verskil wat ’n goedopgeleide en toegewyde buurtwag in die stryd teen misdaad maak,” sê hy oor die deeglike opleiding wat hulle buurtwaglede landwyd bied, waaronder die agtste protospankursus aangebied.
Broodryk vertel protospanlede is die sogenaamde spiespunt van AfriForum-buurtwagte se reaksiespanne en ontvang gespesialiseerde opleiding, wat hand-tot-hand-gevegskuns, mediese opleiding, die beveiliging van tonele en taktiese vuurwapenhantering insluit.

Die agtste opleidingskursus vir protospanlede is die afgelope week aangebied. Foto verskaf
Altesaam 133 buurtwaglede landwyd het al die protospankursus voltooi. Die jongste suksesvolle kandidaat was 19 jaar oud en die oudste 65. Voorts is vier verskillende kursusse tussen 9 en 11 Junie aangebied vir buurtwag-, inligtingspan-, operasiespan- en steunspanleiers.
Broodryk sê AfriForum het 166 veiligheidstrukture landwyd en amper 10 000 opgeleide vrywilligers. “Ons is baie trots en dankbaar vir al ons buurtwaglede wat hulself vrywillig toewy om hul gemeenskappe te help beveilig.
“Ons nooi graag gemeenskapslede, wat belangstel om ’n aktiewe rol in die beveiliging van hul gemeenskap te speel, om betrokke te raak by hul plaaslike buurtwag.”
