On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

South Africa

Los parlement in die Kaap – VF Plus

───   10:31 Fri, 16 Jun 2023

Los parlement in die Kaap – VF Plus | News Article
Die VF Plus sê Suid-Afrika kan nie bekostig om die parlement Gauteng toe te verskuif nie. Foto: Pixabay

Die verskuiwing van die parlement van Kaapstad na Pretoria sal miljarde rande kos, wat die staatskas nie kan bekostig nie; daarom is dit nie ’n sinvolle voorstel van die EFF nie.

“Vir die VF Plus is koste die grootste oorweging in dié aangeleentheid,” sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier. “Die wetsontwerp oor die verskuiwing skets ’n baie onvolledige beeld van die ware koste en talle faktore word buite rekening gelaat.”

Een daarvan is die verskuiwing en hervestiging van al die parlement se ampsdraers en werknemers. “Dit word hoegenaamd nie in die wetsontwerp verreken nie,” sê Groenewald.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê die parlement moet bly net waar hy is, in Kaapstad. Foto: Wikipedia

“Die parlement het sowat 1 300 werknemers; saam met die amptenare, waarskynlik sowat 2 000. Hierdie mense sal hul gesin teen groot koste moet hervestig met skoolgelde, nuwe skoolklere en talle ander faktore wat buite rekening gelaat word.”

Groenewald sê die groot brandskade aan die parlementsgebou in Kaapstad sal minstens R2 miljard kos om te herstel, “maar die uiteindelike koste sal waarskynlik veel meer beloop”. Dié gebou moet egter herstel word, of die parlement dit gebruik al dan nie.

‘Daar sal altyd parlementslede in ander provinsies wees wat moet reis’

Die EFF meen ’n verskuiwing van die parlement na Pretoria sal ’n besparing in die reiskoste van parlementslede en ampsdraers teweegbring. “Dit is ook nie geldig nie aangesien daar altyd steeds parlementslede in ander provinsies sal wees wat moet reis, ongeag waar die parlement geleë is,” sê Groenewald.

“Die parlement se komitees kan steeds op ’n hibriede metode, soos nou ook gedoen word, hul werk voortsit. Die EFF gee altyd hoog op oor hul besorgdheid vir gewone werknemers. Hier word dit geïgnoreer.”

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.