South Africa
Dokter met groot hart pak moeilike paaie na kinders in nood – VIDEO─── ELSABÉ DE JAGER 08:17 Thu, 29 Jun 2023
“Om ’n reis van 2 500 km per trekker aan te pak is beslis nie vir sissies nie.”
Só sê ’n woordvoerder van Pediatric Care Africa oor die tweede On-Trac-Tor-trekkerrit vir liefdadigheid, wat binnekort in die pad val.
Die hart agter die organisasie Pediatric Care Africa is dr. André Hattingh. Die belofte wat hierdie pediater 30 jaar gelede aan homself gemaak het om altyd siek en weerlose kinders te help, lei in 2017 tot die stigting van dié organisasie.
Dr. André Hattingh op die trekker wat hom deur die land gaan neem.
Pediatric Care Africa ontvang geen finansiële ondersteuning van die Suid-Afrikaanse regering nie. Inkomste word self gegenereer om siek en behoeftige kinders van Suid-Afrika by te staan met mediese hulp en kosskenkings.
In sy sesjarige bestaan is mediese hulp aan 6 797 siekes voorsien. Ongeveer 400 000 kospakkies en 13 000 houers babamelk en -pap is afgelewer aan dié in nood.
Op Sondag 2 Julie vertrek Hattingh met ’n Mahindra 86-110 trekker vanaf Witrivier op nog ’n landwye reis om bewustheid te skep en geld in te samel vir kinders wat mediese behandeling en chirurgie nodig het. Wanvoedingsprobleme word ook soos in die verlede, weer aangespreek.

Pediatric Care Africa genereer self inkomste en fondse om siek en behoeftige kinders van Suid_Afrika by te staan. Foto verskaf
Tydens dié uitdagende rit, dikwels op buitengewoon stamperige en hobbelrige paaie, skep Hattingh ook bewustheid van die sinlose moorde, wrede aanrandings en seksuele misdrywe wat teen kinders gepleeg word.
Hattingh sê op die reis vestig Pediatric Care Africa ook, in samewerking met die groep 911 Riders, internasionale aandag op plaasmoorde. Die beoogde roete neem Hattingh deur vyf provinsies en van 8 tot 11 Julie deur dorpe soos Hartswater, Winburg en Clarens.
Die sirkeltoer, wat teen ’n slakkepas van 26km per uur afgelê word, eindig op Saterdag 15 Julie in Witrivier.
