South Africa
Jong rugbyspelers gestewel danksy Vrystaat Kunstefees, KykNET, ‘Toks en Tjops’─── KAYLA BARKER 15:55 Fri, 14 Jul 2023
KykNET se Toks en Tjops, met die insette van die Vrystaat Kunstefees, het die week in Bloemfontein ’n rugbykliniek vir die o. 16-rugbyspan van die Heatherdale Comprehensive Skool aangebied.
Die skool is deur die Vrystaat Kunstefees geïdentifiseer, omdat die skool se rugby die afgelope paar jaar geweldig agteruitgegaan het. Heatherdale is in Heidedal, Bloemfontein, en is deur die Vrystaat Kunstefees onder KykNET se aandag gebring.
Hoewel hulle die afgelope paar jaar met hul sport sukkel, is hulle nou weer besig om dit uit te bou. Die span se afrigter, Sipho Leraisa, sê die jong manne het baie geleer en hy glo dit sal gesien word in die komende seisoen.
Die kliniek is Woensdag en Donderdag deur die Toks en Tjops-span aangebied, met oud-Springbok Breyton Paulse, voormalige Cheetah-speler Alwyn Hollenbach, en die aanbieder Hamilton Wessels as die afrigters.
Wessels sê dat dit ’n fantastiese inisiatief van die Vryfees en KykNET is. Hy sê dat só ’n inisiatief nie moontlik sonder borge is nie en daarvoor sê hulle baie dankie aan die Vrystaat Kunstefees vir die vervoer van die seuns van Heidedal na Grey Kollege, waar die kliniek plaasgevind het, en terug.
Hulle het ook kospakkies en water vir die kinders vir dié twee dae verskaf. Grey Kollege, Hennies Bloemfontein, KykNET en die Toks en Tjops-span word ook bedank vir hul bydraes.
Die spelers het van kykNET elkeen ’n paar rugbytoks, ‘n kykNET-oefentrui, ’n rugbybal en ’n waterbottel gekry. Suné Els, KykNET se handelsmerk-bemarkingskoördineerder, sê dat die kinders so opgewonde oor die nuwe tokse was dat hulle gesê het dit laat hulle voete blink.
Die kykNET-span is baie opgewonde oor die toekoms van die inisiatief en hulle glo hierdie is iets wat ‘n blywende invloed op die jong seuns sal hê. Suné Els en Breyton Paulse vertel meer hieroor.
Deur saam met hierdie spelers te werk, sê Breyton Paulse, is dit werklik ongelooflik om te sien hoe hulle leer en groei, selfs net ná die twee dae wat die kliniek aangebied is. Hulle het nie net hierdie jong seuns nuwe vaardighede geleer nie, hulle het ook die geleentheid gehad om hulle hoop te gee, in hul talente te belê en vir hulle rede te gee om in hul eie vermoëns te glo.
Die insetsel sal vanaand op Toks en Tjops wees.
Kayla Barker/OFM Sport
