South Africa
Nog geen verklaring vir plofslag wat Jhb-straat oopskeur─── 14:09 Fri, 28 Jul 2023
Meer as ’n week nadat ’n ondergrondse ontploffing een van die besigste strate in Johannesburg se middestad oopgeskeur het, is daar nog geen klaarheid oor die oorsaak daarvan nie.
Die ontploffing het die lewe van ’n Malawiese burger geëis en 48 ander beseer, van wie die meeste sedertdien uit die hospitaal ontslaan is, berig Citizen.
Altesame 37 voertuie, meestal minibustaxi's, is beskadig en vyf blokke van Lilian Ngoyistraat (voorheen Breëstraat) is vernietig. Sowat 2 800 huishoudings en besighede is geraak.

Foto: Facebook
Die stadsbestuurder, Floyd Brink, sê daar is geen twyfel dat die ontploffing wel deur gas veroorsaak is nie, berig SANews, die regering se amptelike nuusagentskap. Gasmonsters is na laboratoriums gestuur om te bepaal watter soort gas betrokke was.
Volgens hom is ’n ou aktiewe munisipale pyp met spore van metaangas ontdek terwyl drie ander pype wat gas bevat intussen geïsoleer is.
Elektrisiteit- en watertoevoer en riooldienste na die gebied is vroeër die week reeds herstel.
‘Plaaslike ramptoestand’
’n Verslag is aan die Gautengse wetgewer gestuur om die ontploffing as ’n plaaslike ramptoestand te verklaar. Sodra die wetgewer amptelik dit as ’n ramp verklaar het, sal die provinsiale en nasionale regering intree.
The CCTV footage of Joburg CBD Bree Street explosion has been released. pic.twitter.com/I0oap1G9Ia
— Man’s NOT Barry Roux ? (@AdvoBarryRoux) July 20, 2023
Intussen het die metroraad se ondersoekspan tekens van vandalisme in die ondergrondse stelsels van Lilian Ngoyistraat opgespoor.
Brink verseker die publiek dat daar geen tekens van lewe ondergronds is nie. “Daar is water teenwoordig wat dit moeilik bewoonbaar vir boemelaars maak.”
Beplanning om die padoppervlak en ondergrondse dienstonnels in Lilian Ngoyistraat te herstel het reeds begin. “
Ons het 'n span ingenieurs van verskillende departemente van die metro om die omvang van die werk wat onderneem moet word, te beplan.”
‘Stad is tikkende tydbom’
In ’n artikel deur BusinessTech het beide Transnet en Sasol reeds in 2018 gewaarsku dat dele van Johannesburg kan ontplof of ineenstort weens onwettige mynbou-aktiwiteite.
Onwettige mynwerkers (sogenaamde zama-zamas) is besig om ’n doolhof van tonnels onder die stad te grawe. In 2018 het dié tonnels reeds oor 140 km onder die M1-dubbeldekkersnelweg, die M2-hoofweg, dele van Soweto en die FNB-sokkerstadion met sy 94 000 sitplekke gestrek.

Foto: Facebook
Volgens die verslag word plofstof in baie gevalle enkele meters van hoogs vlambare gas- en brandstofpype onder die stad gebruik.
“Johannesburg is ’n tikkende tydbom,” is destyds reeds gewaarsku. “Amptenare kan beslag lê op plofstof maar hulle het nie vaardighede om onwettige mynbou te stop nie.”
