South Africa
Dalende inflasie beteken dis dalk tyd om huis te koop─── DANE BEISHEIM 06:47 Tue, 15 Aug 2023

Daar is moontlik lig aan die einde van die tonnel vir vuisvoos verbruikers wat weens hoë rentekoerse huiwer om ’n nuwe huis te koop.
Die verbruikersprysindeks (VPI) het vir die eerste keer sedert April 2022 tot die Reserwebank se teiken van tussen 3 tot 6 persent teruggesak.
Renier Kriek, besturende birekteur van die huisleningsvoorsiener Sentinel Homes, meen ’n laer VPI wys inflasie het moontlik ’n hoogtepunt bereik. Sedert die ontwrigting van die wêreldekonomie weens Covid-19 het verskeie faktore bygedra tot wêreldwye hoë inflasie, waarvan Suid-Afrika nie gespaar is nie.
Inflasie kom dikwels voor omdat die verskil tussen verbruikersvraag na items en produsente se vermoë om daarin te voorsien, veroorsaak dat pryse skerp styg.
Die tyd is ryp om te belê in ’n huisie by die see, soos op die gewilde Mosselbaai. Foto: Morné van Rooyen
“Natuurlik hang die beste tyd om te koop af van verskeie faktore en toestande, wat van streek tot streek, geval tot geval en prysklas tot prysklas verskil.
“Op hierdie tydstip is daar voorraadtekorte – dit is die woord van eiendomsagente – as gevolg van die hoër rentekoersomgewing en die druk waaronder verbruikers verkeer,” sê Kriek.
Kriek voeg egter by vir “enigiemand wat daarop uit is om van die noordelike provinsies na die Wes-Kaap of elders aan die kus te semigreer, “is die tyd ryp om te koop en moet hulle nie wag nie”.