South Africa
Gee die wêreldrekord gas, Gielie!─── 13:30 Sat, 23 Sep 2023
“Die projek om 53 miljoen mense rondom vuur te herenig, is my lewe.”
’n Man van Calitzdorp in die Klein Karoo probeer om die Guinness Wêreldrekord vir die langste braai te verbeter.
Gielie Basson, eienaar van Zamani Bar and Grill van Calitzdorp, wil 84 uur aaneen probeer braai in ’n poging om die wêreldrekord vir die langste braai te verbeter.
Hy het reeds Donderdagoggend om 05:00 sy braaivleisvuur aangesteek om hierdie Erfenisdag-naweek die huidige 80-uur-rekord in vlamme te laat opgaan. “Ek beoog om vir 84 uur by Zamani te braai – tot 15:00 op 24 September.
“Jan Greeff, ’n Suid-Afrikaner wat in 2014 in Amerika gewoon het, is tans die rekordhouer. Ek wil sy rekord breek,” het 'n vurige Basson aan die Oudtshoorn Courant gesê.
Volgens die reëls vir dié Guinness Wêreldrekord-poging, moet Basson op sy eie braai sonder dat iemand anders toegelaat word om aan die hout, die braai, die vleis of die toerusting te raak.
“Ek mag die vleis op die rooster net met die hand omdraai. Ek mag nie 'n opvourooster gebruik nie. Die vleis moet gaar en eetbaar wees – dus nie te rou of oorgaar van die rooster afkom nie. Een van die uitdagings is dat die hele poging op video opgeneem moet word sodat dit as bewysstuk ingestuur kan word. Dit kom neer op sowat 86 uur se deurlopende opname,” het Basson gesê.
Die eienaar van Zamani – wat ook bekend staan as “The Smallest Bar” op Roete 62 – mag nie die vleis vir ’n wins verkoop nie.
Hy het die eerste braaivleis aan noodwerkers in Calitzdorp geskenk. Hy beplan ook om skenkings aan Vygieshof, 'n plaaslike versorgingsoord, en 'n sopkombuis in Bergsig te doen.
Jan Scannell, oftewel Jan Braai, die man agter die Nasionale Braaidag-inisiatief, het Basson ook sterkte toegewens.
Volgens die SA Geskiedenis het Jan Braai in 2005 die Braai4Heritage-organisasie se veldtog geloods om Erfenisdag as Nasionale Braaidag te herposisioneer.
Die beroemde braaimeester se Braaidag-visie is om 'n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse kultuur te koester en te omarm. “Braaivure het al 160 000 jaar gelede in Suid-Afrika ontstaan. Ons het uitgevind hoe om kos op vure te braai! Die projek om 53 miljoen mense rondom vuur te herenig, is my lewe.”
