South Africa
Pretoriase seun verras almal met sy aankoms by matriekafskeid─── ZENANDE MPAME 12:03 Wed, 18 Oct 2023
Ronaldo Joubert van Pretoria het binne die boks gedink vir sy matriekafskeid.
Hoe gemaak as jy iets uniek vir jou matriekafskeid wil doen. Jy huur ’n spoggerige motor of helikopter, maar dié matrikulant het ’n ander plan gehad.
Die personeel en matrikulante van die Hoërskool Garsfontein in Pretoria het gewonder wat word by die matriekafskeid in ’n reusekartonboks afgelewer.
Ronaldo Joubert het almal verras toe hy uit die afleweringsboks klim.

Ronaldo Joubert met sy aankoms by die Colosseum Reale Venue in Roodeplaat vir sy matriekafskeid. Foto: The Courier Guy
The Citizen berig Joubert en sy ma, Lanie Claassen, het met die uniek plan vorendag gekom vir sy matriekafskeid wat Saterdag (30/9) by die Colosseum Reale Venue in Roodeplaat gehou is.
“Ek wou iets buitengewoon doen en dit het gewerk,” se Joubert.
Hulle het besluit dat hy met die koeriermaatskappy The Courier Guy afgelewer moet word.

Ronaldo Joubert word uit die afleweringsvoertuig gehaal. Foto: The Courier Guy
Johan Murray, areabestuurder van The Courier Guy, sê hy het nog nooit so vreemde versoek gehad nie.
“Toe ons die oproep kry was die eerste ding wat ons wou weet hoe groot is die seun, want hy kan ’n stut van die eerste span wees of ’n maer seun. Die hoofkantoor het die plan goedgekeur en ons het dit uitgevoer,” sê hy.
"Dit was ’n oornag-aflewering en Ronaldo het toiletpapier, water, 'n tandeborsel, tandepasta en sy klere vir die nag in die boks gehad," sê Claasen.

Lanie Claassen is trots op haar seun, Ronaldo Joubert, se plan. Foto: The Courier Guy
The Courier Guy sê dit was ’n eenmalige gebeurtenis en hulle sal dit nie sommer gou weer doen nie.
