South Africa
Suid-Afrika word ál armer weens inkrimpende ekonomie─── 12:04 Wed, 06 Dec 2023
“Ons het ‘n regering wat aan die verkeerde filosofie glo, wat onvaardig, onwaardig en in baie gevalle eenvoudig korrup is.”
Ná twee opeenvolgende kwartale van groei het Suid-Afrika se bruto binnelandse produk in die derde kwartaal van 2023 met 0,2% ingekrimp.
Hoewel die Reserwebank voorspel die ekonomie sal steeds ’n jaarlikse groei van 0,8% vir 2023 toon, wys Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, daarop dat groei van onder 0% beteken die land se ekonomie word ál kleiner.
“Die syfers wat ons (Dinsdag) gesien het en wat ons oor die volgende klompie kwartale en waarskynlik jare sal sien, gaan ‘n soortgelyke prentjie skets van ‘n ekonomie wat beswaarlik groei en ‘n bevolking wat voortdurend armer en armer word,” sê hy.
Weens die volgehoue fase 4- en fase 6-beurtkrag en die voortslepende logistieke ontwrigting by Transnet is die grootste verliese in die landbou-, mynwese-, vervaardigings- en konstruksiesektor aangeteken.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group.
Luidens Statistieke Suid-Afrika het die toenemenede koste van vervoer, behuising, elektrisiteit, gas en ander brandstowwe huishoudings in die derde kwartaal genoop om minder geld aan duursame items asook nieduursame goedere en dienste te bestee. Verbruikers het by uitstek hul gordels stywer getrek wat betref voedsel, drank en tabak, asook ontspannings- en kultuurbedrywighede.
Roodt sê terwyl daar verskeie redes vir die inkrimping is, kom dit daarop neer dat die ANC-regering die verkeerde makro-ekonomiese beleid volg. “Ons het ‘n regering wat aan die verkeerde filosofie glo, wat onvaardig, onwaardig en in baie gevalle eenvoudig korrup is. Die gevolge van die regerende party se veelvlakkige versuim is swak ekonomiese groei, verkrummelende infrastruktuur en wantroue in die ekonomie.
“’n Mens sien dit reeds in die syfers; ons verbruikersbesteding is onder druk, en ek is bevrees ons gaan meer daarvan sien in die volgende klompie kwartale en waarskynlik oor die volgende klompie jare ook.”
OFM Nuus/Linette Retief dg/mc
