South Africa
Veiliger feestyd: Beskerm jouself tydens misdade op pad─── KAREN VAN DER BERG 08:00 Thu, 21 Dec 2023
“Moenie onnodig kanse waag nie. Geen heldedaad is jou lewe werd nie.”
Veiliger paaie, veral in die feestyd, is nie net die verkeerspolisie se verantwoordelikheid nie. Ons elkeen kan ’n bydrae lewer deur verantwoordelik te bestuur en op ons hoede te wees vir padmisdaad en dit dadelik aan te meld.
Wat is padmisdaad?
Verskeie misdade wat ’n uitwerking op padgebruikers het, word in of naby ons paaie gepleeg deur:
- Misdadigers wat op private eiendom toeslaan, byvoorbeeld kontantrooftogte, kapings, voertuigdiefstal en diefstal vanuit voertuie.
- Misdadigers wat toeslaan op openbare eiendom en infrastruktuur, byvoorbeeld die beskadiging van paaie, verkeerstekens en verkeersligte en diefstal van mangatdeksels.
- Gebruik van voertuie in die pleeg van misdaad, insluitend roekelose en onwettige bestuursaktiwiteite soos tref-en-trap-ongelukke, padwoede en om onwelvoeglike gebare te maak.
- Misdadigers wat klippe en ander voorwerpe in die pad plaas of klippe van brûe op voertuie gooi om botsings te veroorsaak en/of botsingslagoffers te beroof.
Persoonlike veiligheid eerste
Terwyl jou verantwoordelikheid as padgebruiker kernbelangrik is, bly jou en jou passasiers se veiligheid die topprioriteit.
- Al wil jy slagoffers help, moenie betrokke raak nie, veral nie wanneer die misdadigers gewapen is nie.
- Moenie onnodige risiko’s loop (sic) deur byvoorbeeld in die skuldige se voertuig vas te jaag nie. Geen heldedaad is jou lewe werd nie.
- Wees bewus van die pad voor jou. Laat genoeg afstand tussen jou en die voorval om jou teen plofstowwe, gebreekte glas of gelekte brandstof te beskerm.
- Moenie aandag op jouself vestig deur byvoorbeeld vir verdagtes te toet, skree of gesien te word terwyl jy foto’s/video’s neem nie.
- As jy gevolg word en ’n app het wat jou ligging deurgaans kan aandui, stuur dit na ’n vriend of familielid.
- As jy nie bestuur nie, kan jy ’n klankopname maak van wat jy waarneem, mits jy dit onopsigtelik kan doen.
OFM Nuus dg
