South Africa
Deurry-restaurante nuwe teiken vir kapers─── 11:41 Fri, 29 Dec 2023
Kapers teiken motoriste wanneer hulle vasgekeer is en nie kan beweeg nie.
Motoriste wat by deurry-kitskosrestaurante aandoen, word gewaarsku om deurentyd waaksaam te wees ná ’n toename in kapings en diefstal by hierdie plekke.
Die motorwebwerf TopAuto berig deurry-restaurante word al hoe meer deur misdadigers geteiken. Kapers teiken motoriste wanneer hulle vasgekeer is en nie kan beweeg nie, soos by ’n afrit van ’n snelweg of terwyl hulle vir ’n parkeerkaartjie betaal. Die deurrybaan van kitskosplekke is die jongste brandpunt.
Gevalle is by die polisie aangemeld waar misdadigers 'n geteikende slagoffer se motor versper terwyl hulle in die ry is om kos te bestel. Terwyl die slagoffer nie kan ontsnap nie, beroof die diewe, wat gewoonlik gewapen is, hom van sy persoonlike besittings soos beursies, handsakke en selfone en probeer om die motor te kaap.
'Hou jou vensters en deure toe terwyl jy vir jou bestelling wag'
In die geval van ’n kaping wag die misdadigers gewoonlik totdat die teiken amper voor in die ry is want dit gee hulle 'n beter kans om vinnig weg te jaag. Twee motors is gewoonlik betrokke, een voor en een agter die teiken. Die misdadigers wag dan vir ’n geleentheid om uit te spring en hul slagoffer te verras.
Veiligheidskenners het die volgende wenke vir motoriste:
- Hou jou handsak en waardevolle items buite sig, verkieslik in die bagasieruim;
- Hou jou kontant of bankkaart by jou sodat jy vinnig kan betaal en wegry;
- Vermy plekke wat snags swak belig of geïsoleerd is;
- Hou jou vensters en deure toe terwyl jy vir jou bestelling wag;
- Besoek deurry-restaurante tydens spitstye wanneer daar meer beweging en verskerpte veiligheidsmaatreëls is;
- Probeer sover moontlik om nie jong kinders saam te neem nie omdat hulle jou aandag kan aflei.
OFM Nuus
