On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

South Africa

Slangvanger sluit inbreker in kamer met reptiele toe

───   09:52 Thu, 11 Jan 2024

Slangvanger sluit inbreker in kamer met reptiele toe | News Article
Gerrie Heyns met een van sy slange. Foto: Facebook

“Ek is bekend as die slangman in die area. Hierdie dief het geweet wie ek is, maar het geen idee gehad dit is my huis waarby hy ingebreek het nie.”

’n Dief wat vandeesweek by ’n huis in Montagu in die Wes-Kaap ingebreek het, het sy Moses – én ’n pofadder, Kaapse kobra en mielieslang – teëgekom.

Die dief en sy makker het Maandagoggend by die huis van die slanghanteerder Gerrie Heyns ingebreek.

Heyns het Maandag omstreeks 02:30 voor die TV gesit toe Saartjie, sy Afrika-wildekat, uit sy slangkamer gestap en ’n geluid gemaak het.

"Sy maak hierdie geluide wanneer daar ’n onbekende teenwoordigheid in die huis is. So, ek het opgestaan om te gaan ondersoek instel," het hy aan News24 gesê.

Hy het na die slangkamer gegaan en die lig aangeskakel – maar tot sy skok het ’n man tussen twee slanghokke probeer wegkruip.

“Sy oë het gelyk of hulle gaan uitpop toe hy besef by wie se huis hy pas ingebreek het,” het Heyns gesê.

Nog 'n vermeende dief het buite gewag. ’n Stoeiery het met die inbreker gevolg en hy het om hulp na sy makker geroep, maar hy was reeds weg toe hy sien die ligte gaan aan.

Die inbreker het egter ’n lang mes uitgehaal en na hom toe begin kom. Hy het toe daarin geslaag om die deur toe te maak en te sluit net voordat die aanvaller hom wou steek.

Die inbreker het ’n stoel gegryp en ’n venster van die slangkamer stukkend geslaan en ontsnap.

"Man, ek wens ek kon die slange op daardie mans vrygelaat het. Ongelukkig is dit nie vrylopende slange nie, so hulle moes toegesluit word," het Heyns gesê.

Gerrie Heyns, waar hy ’n slang hanteer. Foto: Facebook

Sy bure het die rumoer gehoor, die dief gesien weghardloop en moes die polisie ontbied het, want minute later het die Montagu-polisie by sy huis opgedaag.

Hy het gesê terwyl hy by die hospitaal was, het die polisie iemand met van sy seun se besittings betrap. Sowat 20 minute later het die polisie die tweede verdagte gevang.

“Ek is bekend as die slangman in die area. Hierdie dief het geweet wie ek is, maar het geen idee gehad dit is my huis waarby hy ingebreek het nie.”

Die polisie het bevestig dat twee mense in hegtenis geneem is. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die twee, onderskeidelik 29 en 33 jaar oud, is van huisbraak en diefstal aangekla nadat hulle gevind is met van die items wat uit Heyns se huis gesteel is.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.