South Africa
Omstrede ‘renosterbewaarder’ van Limpopo kry R100 000 borgtog─── 08:30 Fri, 12 Jan 2024
“Die polisie het op 26 renosterkarkasse en 17 renosterhorings op die plaas afgekom.”
Die Amerikaanse eienaar van ’n bewaringsoord vir renosters in Limpopo Derek Lewitton (53) moet op 7 Maart weer in die hof verskyn nadat hy Woensdag (10/1) deur die Namakgale-landdroshof op borgtog van R100 000 vrygelaat is.
Die staat het nie sy borgtogaansoek teengestaan nie aangesien sy wettige status in Suid-Afrika, sy huwelikstatus en woonadres deur die staat bevestig kon word.
Lewitton is kort voor Kersdag tydens ’n klopjag op sy plaas, Harmony Gate-landgoed, naby Gravelotte in hegtenis geneem weens die beweerde onwettige besit van renosterhorings en vuurwapens. Die polisie het 26 renosterkarkasse en 17 renosterhorings op die plaas ontdek, asook sewe vermoedelik onwettige vuurwapens.
Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê in ’n verklaring hy word aangekla van die oortreding op die Wet op die Beheer van Vuurwapens en die Wet op Biodiversiteit.
Landbou.com berig Lewitton is in Suid-Afrika gebore, maar het kleintyd saam met sy ouers na Amerika verhuis. Hy het ’n doktorsgraad in die regte verwerf voordat hy as gasdosent aan die Universiteit van die Witwatersrand kom doseer het. In 2016 het hy besluit om hom toe te spits op die bewaring van renosters.
Hierdie video is voorheen op sy webblad geplaas.
Maurice Crespi, Lewitton se regsverteenwoordiger, het aan Netwerk24 gesê hy het geldige permitte vir die renosterhorings wat op sy plaas gekry is. Dit is nie duidelik hoe die renosters gevrek het nie.
Lewitton is in bewaringskringe daarvoor bekend dat hy hom al jare beywer om die handel in renosterhoring te wettig. In ’n Al Jazeera-onderhoud in 2021 het hy gesê dat ongeveer die helfte van Suid-Afrika se renosterbevolking op private grond is en dat jaarliks miljoene rande bestee word aan veldwagters, veiligheidsmaatreëls, veeartsenykundige sorg en ekstra voeding tydens droogtes.
OFM Nuus cg
