On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

‘Meer studente sal vir NSFAS kwalifiseer’

───   12:44 Mon, 15 Jan 2024

 ‘Meer studente sal vir NSFAS kwalifiseer’ | News Article
Blade Nzimande.

Nzimande sê hulle is gereed om fase een van die “verlore middelgroep”-studenteleningskema in werking te stel.

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, sê die regering het 'n fonds van R3,8 miljard binne die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) gestig om studente te ondersteun wat in die “verlore middelgroep” vasgevang is.

Die leningskema sal van toepassing wees op voor- sowel as nagraadse studente.

Hy het Sondag op 'n mediakonferensie gesê die regering is gereed om die eerste fase van die studentefinansieringsmodel toe te pas om te verseker dat die groep toegang tot finansiering van die regering kan kry.


Die “verlore middelgroep” verwys na studente wie se jaarlikse gesamentlike gesinsinkomste tussen R350 000 en R600 000 is.

Volgens Nzimande is die R3,8 miljard saamgestel uit R1,5 miljard van die NSFAS-fonds en R2,3 miljard van sektoropleiding en onderwysowerhede.

"Hierdie bedrag sal 47% van die ‘verlore middelgroep’ finansier, wat 31 884 uit die 68 446 studente is. Dit is ’n baie belangrike mylpaal in die verbintenis van die ANC-geleide regering om ’n beter lewe vir almal te bevorder terwyl ons 30 jaar van ons vryheid vier,” het hy gesê.

‘Ons sal met universiteite saamwerk’

Die tweede fase sal van 2025 tot 2035 inwerking gestel word, en die regering beplan om die finansiering oor dié tydperk van 10 jaar met die hulp van private en openbare banke te verhoog.

“Ons sal met universiteite saamwerk sodat die universiteite wat dit kan finansier, ook kan help om lenings aan die ‘verlore middelgroep’-studente te gee,” het Nzimande gesê.

Hy het bygevoeg dat veral aandag geskenk sal word aan die armer universiteite wat baie min van dié studente gehad het.

Nzimande se aankondiging kom nadat die SA Studente-unie geëis het dat hy as minister verwyder word, na aanleiding van ’n verdoemende verslag wat deur die Organisation Undoing Tax Abuse uitgereik is. Die verslag beweer dat diensverskaffers wat deur die NSFAS gekontrakteer is, miljoene rande in terugbetalings aan Nzimande en Ernest Khosa, NSFAS-direksievoorsitter, betaal het.

Nzimande ontken die bewerings en sê hy het geen persoonlike terugbetalings ontvang van enige van die diensverskaffers of enige van die entiteite wat onder sy departement val nie.

Die leningskema sal van toepassing wees op:

  • Studente met ’n jaarlikse huishoudelike inkomste van R350 000 tot R600 000;
  • Studente aan TVET-kolleges sowel as universiteite;
  • Voor- én nagraadse studente;
  • 70% van die studente moet in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde studeer.

OFM Nuus cg/dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.