South Africa
Groot brandstofprysstygings in Februarie verwag – AA─── 13:57 Mon, 05 Feb 2024
“Die stygings in die brandstofpryse so vroeg in die jaar sal ’n negatiewe invloed op huishoudings se begroting hê,omdat verbruikers nog herstel ná die feestyd se besteding en uitgerekte begrotings.”
Huidige ongeouditeerde brandstofdata van die Sentrale Energiefonds (SEF) toon aansienlike verhogings vir alle grade brandstof in Februarie.
Volgens die AA dui die syfers daarop dat die kortstondige verligting wat Suid-Afrikaanse motoriste die afgelope drie maande geniet het iets van die verlede is.
Volgens die data sal 93-oktaan-petrol en 95-oktaan-petrol na verwagting onderskeidelik met 64c per liter en 66c per liter styg, terwyl diesel moontlik met sowat 63c per liter sal styg. Paraffien sal na verwagting in Februarie 47c per liter duurder wees as wat dit nou is.
“Die beweging in internasionale oliepryse dra ’n beduidende persentasie tot die stygings by, terwyl die swakker gemiddelde rand-dollar-wisselkoers 'n kleiner bydrae tot die verwagte stygings voeg,” sê die Automobiel-Assosiasie (AA).

Motoriste kan verwag om meer vir brandstof in Februarie te betaal. Foto: Getty Images
Op grond van hierdie syfers sal 95-oktaan-petrol in die binneland tot R23,15 per liter styg en 93-oktaan-petrol tot R22,81 per liter.
“Die stygings in die brandstofpryse so vroeg in die jaar sal ’n negatiewe invloed op huishoudings se begroting hê,omdat verbruikers nog herstel ná die feestyd se besteding en uitgerekte begrotings.
“Die kumulatiewe effek op persoonlike finansies sal ’n verdere vermindering van besteebare inkomste wees wat vererger sal word deur prysverhogings van goedere en dienste wat die hoër brandstofinsetkoste moet verhaal,” sê die AA.
‘Motoriste moet verseker dat voertuie goed onderhou word’
“Ons doen weereens ’n beroep op verbruikers om hul brandstofverbruik noukeurig te monitor, en om te begroot volgens die nuwe brandstofpryse wat Woensdag in werking tree. Hulle moet verseker dat voertuie goed onderhou word en in ’n goeie meganiese toestand is, roetes noukeurig beplan en swaar verkeer vermy word. Dit is ’n paar maniere waarop motoriste beter brandstofverbruik kan verseker.”
OFM Nuus cg/dg
