On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

South Africa

Vreugde oor weiering van borgtog aan Werner de Jager

───   KAREN VAN DER BERG 14:35 Fri, 23 Feb 2024

Vreugde oor weiering van borgtog aan Werner de Jager | News Article
Werner de Jager. Foto: Ian Cameron Action Society

“Dit het presies 863 dae geneem, maar De Jager bly uiteindelik agter tralies.”

“Ons hoop die borgtogaansoek se uitspraak bring hoop en bemoediging vir vroue wat hulle in moeilike verhoudings bevind.”

So sê lt.kol Marietjie Roodt van die polisie se eenheid vir onopgeloste sake oor die moordbeskuldigde Werner de Jager (45), wie se borgtogaansoek Donderdag (22/2) in die landdroshof op Amanzimtoti geweier is.

Die eenheid ondersoek die moordsaak en het De Jager in November in Bloemfontein in hegtenis geneem vir die moord op sy vrou, Liezel de Jager, predikant van die NG Gemeente Suidkus op Amanzimtoti ten tyde van haar moord op 13 Oktober 2021.

Landdros Zama Nyuswa sê borgtog kan nie aan hom toegestaan word nie. Foto:   Ian Cameron/Action Society

Hy sal weer op 14 Maart in die hof verskyn om aansoek te doen om regshulp. Sy regspan het hulle aan die saak onttrek.

“Ons is verheug oor die uitspraak. Daar lê nog ’n lang pad voor met die hofsaak. Maar dinge stop nie hier nie en ons sal aanhou baklei en Liezel se stem wees,” sê Roodt.’

‘Dit het presies 863 dae geneem’

Ook Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by die organisasie Action Society, is verheug dat De Jager nie borgtog gekry het nie. “Dit het presies 863 dae geneem, maar De Jager bly uiteindelik agter tralies.” Hy sê De Jager se inhegtenisneming en die weiering van sy borgtog aansoek is twee groot stappe in die regte rigting.

Cameron, wat ook as woordvoerder vir Liezel se familie optree, sê die familie is verheug oor die uitspraak. “Ons is verlig en ons vier die oorwinning. Ons voel dit stuur ’n sterk boodskap uit,” het hulle by monde van Cameron gesê.

‘Die ondersoekspanne het uitsonderlike werk gedoen’

Hy het ook lof gebring aan die wyse waarop die landdroshof in Amanzimtoti die hofverrigtinge hanteer het. “Die ondersoekspanne van die polisie het ook uitsonderlike werk gedoen,” sê hy.

“Die uitspraak moet dien as waarskuwing aan alle mishandelaars en dit moet ook ’n boodskap van hoop bring aan slagoffers van geweld.”

Cameron sê mense wat in gewelddadige verhoudings vasgevang is moet weet daar is hulp en mense wat aan hulle kant is.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.