South Africa
Boer in hof nadat hy man glo klap, omry─── 11:55 Thu, 14 Mar 2024
“Die boer het na bewering handgemeen geraak en hom omgery nadat die man betaling vir ’n eenvertrekhuis wat hy vir hom gebou het, gesoek het.”
’n Boer van Amatava buite Mokopane (voorheen Potgietersrus) in Limpopo het Woensdag (13/2) in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord en verset teen inhegtenisneming.
David Maree (55) is Dinsdag in hegtenis geneem nadat ’n stryery ontstaan het tussen hom en ’n man, wat geld vir bouwerk by hom gesoek het, en hy na bewering handgemeen geraak en die man omgery het.
Die klaer en sy vrou het na Maree gegaan om betaling in te vorder vir werk wat gedoen is, sê Mashudu Malabi-Dzhangi, NVG-woordvoerder. Die man is glo deur Maree gehuur om ’n eenvertrekhuis vir R4 500 te bou, maar is slegs R600 betaal vir die werk wat hy gedoen het.

David Maree (55), ’n boer van Amatava buite Mokopane in Limpopo. Foto verskaf
“ ’n Onderonsie het tussen die klaer en Maree ontstaan. Maree het die klaer glo met die plat hand geklap voordat hy in ’n voertuig geklim en hom omgery het. Die klaer het veelvuldige beserings aan sy been opgedoen en is na die hospitaal vir mediese behandeling geneem,” sê Malabi-Dzhangi.
Maree is dieselfde dag op sy plaas in hegtenis geneem. Hy bly in aanhouding tot Woensdag (20/3) wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.
Maroela Media berig ondersteuners het Woensdag voor die landdroshof ter ondersteuning van Maree bymekaargekom.
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg
