South Africa
Zuma-ongeluk ‘poging tot sluipmoord’, sê ondersteuners─── 11:15 Sat, 30 Mar 2024
“Hoekom sal ’n sekere motor net die motor teiken waarin president Zuma was en nie die ander motors wat hom omring het nie? President Zuma was die teiken.”
Oudpres. Jacob Zuma is ongedeerd nadat sy gepantserde voertuig Donderdagaand (28/3) in ’n botsing betrokke was. Die bestuurder (51) van die ander voertuig, wat na bewering dronk was, is op die toneel in hegtenis geneem en sal Dinsdag (2/4) in die hof verskyn.
Intussen vermoed ondersteuners van Zuma ’n misdaad en beweer op sosiale media die ongeluk was “’n sluipmoordpoging”.
Die ongeluk het kort voor 19:00 tussen Gingindlovu en Eshowe in KwaZulu-Natal gebeur, berig News24. Foto’s wat verskaf is wys die voertuig het aan die kant van die bestuurder in Zuma se BMW vasgery. Dit blyk die motor se voorband het die meeste skade opgedoen, terwyl skrape duidelik aan die voor- en agterdeure gesien kan word.

Die skade aan Zuma se motor. Foto: News24
Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die ongeluk het omstreeks 18:40 op die R66 gebeur. “Niemand is beseer nie, onder wie lede van die presidensiële beskermingsdienste. Die oudpresident is ontruim en na sy woning geneem.”
’n Bron het aan News24 gesê die ongeluk is doelbewus veroorsaak. “Die presidensiële konvooi was van Durban op pad na Nkandla toe die voorval gebeur het. Iemand het reguit in die presidensiële konvooi vasgery. Dit beteken hulle weet presies wat hulle doen.
“Hoekom sal ’n sekere motor net die motor teiken waarin (oud)pres. Zuma was en nie die ander motors wat hom omring het nie? (Oud)pres. Zuma was die teiken.”
‘Hy was so dronk hy kon nie regop staan nie’
’n Ooggetuie het op die toneel gesê die man wat in Zuma se konvooi vasgejaag het, “was so dronk hy kon nie regop staan nie. Ek dink nie dit was opsetlik nie.“
Musa Mkhize, hoof van die MK-party, het aan die SAUK gesê hulle vermoed gemene spel. “Ons het verwag dit gaan gebeur. Die (voormalige) president is gewaarsku hy gaan voor die verkiesing in die hospitaal wees. Dankie aan die presidensiële beskermingseenheidlede wat daarin geslaag het om die president veilig te hou.”
Volgens Mkhize is Zuma se sekuriteit drasties verminder “en is sy lewe in gevaar” sedert hy sy steun aan die MK-party aangekondig het.
Die polisie sê die verdagte is in aanhouding en sal hy Dinsdag in die Eshowe-landdroshof op aanklagte van dronk, roekelose en nalatige bestuur voorkom.
