South Africa
Vrou in Paarl toegang tot Binnelandse Sake geweier oor dienshond─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:37 Fri, 12 Apr 2024
“Die voorval het daartoe gelei dat Palm ’n paniekaanval gekry het.”
’n Inwoner van die Paarl is glo geteister en toegang by die Departement van Binnelandse Sake se kantoor geweier omdat haar geregistreerde dienshond, Cooper, by haar was.
Yvette Palm, ’n forensiese handskrifontleder wat ernstige posttraumatiese stressteuring (PTSS) het, sê sy maak staat op Cooper om haar na openbare plekke te vergesel.
Maandag (10/4) is Palm glo by die ingang deur twee veiligheidswagte geteister. Palm sê sy was net daar om haar seun, wat in die gebou was, se motorsleutel te kry. Sy het aangedring om die bestuurder te spreek, maar hy wou haar nie ‘n spreekbeurt gee nie.
Cooper is ’n geregistreerde dienshond. Foto verskaf
’n Kind wat by Binnelandse Sake was, het ook vir Cooper geskop en geslaan. Palm is toe beveel om buite te wag, “sodat die hond nie die kind byt nie”.
Die voorval het daartoe gelei dat Palm 'n paniekaanval gekry het, wat die ernstige uitwerking van sulke voorvalle op haar geestesgesondheid beklemtoon. Palm gaan dit egter nie net daar laat nie. Sy het ‘n klag by die Disabilty Info of South Africa ingedien wat gevalle ondersoek van dienshonde wat toegang geweier word.
OFM Nuus/Charné van der Merwe dg/mc