South Africa
Siya Kolisi een van ‘Time’ se 100 invloedrykste mense─── 10:21 Fri, 19 Apr 2024
“Siya Kolisi het herstel van ’n ernstige kniebesering en die Springbokke na ’n oorwinning in die Wêreldbeker gelei.”
Die nuustydskrif Time het Suid-Afrika se trots en vreugde Siya Kolisi aangewys as een van die wêreld se honderd invloedrykste mense van 2024.
Kolisi het in Oktober die Springbokke na ’n sege van 12–11 oor Nieu-Seeland in die Wêreldbekerrugbyeindstryd in Frankryk gelei om ’n rekord vierde titel te behaal. Suid-Afrika het ook in 2019, 2007 en 1995 die Rugby Wêreldbekertitel verower.
Kolisi is in 2018 as die eerste swart kaptein van die Springbokke aangewys. Die boorling van Gqeberha se lewenspad was nie maklik nie, aangesien hy die ervaring van honger, geweld, alkoholisme en beserings oorkom het.
What a time to be alive!
— Motshidisi E. Mohono (@MotshidisiM) April 17, 2024
Congratulations, Mkhokheli @SiyaKolisi ???? pic.twitter.com/3PhvnJSGRo
Kolisi is nou in Frankryk gebaseer waar sy vertonings beïndruk. Rassie Erasmus, Springbok-afrigter, het egter aangedui hy verkies dat die Springbokke se kaptein sy rugby in Suid-Afrika speel.
Kolisi het gereageer deur te sê hy sien die afrigter se punt in en wil die beste vir die span hê. “Dit is normaal. Ek het dit geweet voordat ek besluit het om hierheen te kom. Hy (Erasmus) praat, en hy sê dit is die situasie; dit is wat dit is – daar is niks wat ek daaraan kan doen nie.”
Intussen sal die 25ste Laureus-wêreldsportpryse in Mei toegeken word. Kolisi is benoem vir die Wêreldterugkeer van die Jaar-prys omdat hy herstel het van ’n ernstige kniebesering en toe die Springbokke na rugby-oorwinnings in die Wêreldbeker gelei het.
OFM Nuus cg/mc