On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Driekampatlete uit alle wêrelddele toon staal in Nelson Mandelabaai

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 08:19 Sat, 20 Apr 2024

Driekampatlete uit alle wêrelddele toon staal in Nelson Mandelabaai | News Article
Foto: Facebook/IronMan South Africa

“Hierdie buitengewone en ondenkbare prestasie help talle mense om hul eie wenstreep oor te steek en iets te oorwin en verwerk wat hulle dalk gedink het onoorkombaar was.”

Gqeberha verwelkom driekampatlete van dwarsoor die wêreld vir die langverwagte Ysterman-Afrikakampioenskap, wat Sondag (21/4) in Nelson Mandelabaai plaasvind.

Die Ysterman-kompetisie bestaan uit 3,8 km-swemsessie by Hobie Beach, ’n 180 km-fietsrit langs Marinerylaan en word afgesluit met ’n 42,2 km-marathon.



Mededinging om die Nelson Mandelabaai-70.3-Ystermantitel, wat bestaan uit ’n 1,9 km-swem, 90 km-fietsrit en 21,1 km-halfmarathon, sal ook plaasvind.

OFM-omroeper Shandor Potgieter van Bloemfontein gaan ook die ondenkbare aandurf, kort nadat hy die Twee Oseane-halfmarathon voltooi het.

Volgens hom word die transformasie – van toe hy ’n paar jaar gelede 136 kg geweeg het – om ’n pad van gesondheid en fiksheid aan te pak, aangevuur deur die begeerte om ander te inspireer om beheer oor hul lewe terug te kry.



Drie Van Schalkwyks, ook van Bloemfontein, het Saterdagoggend vroeg na Gqeberha vertrek. Nicola van Schalkwyk (24) pak vanjaar haar eerste Ysterman 70.3 aan saam met haar broer, Gabriël (27), en haar pa, Theuns (57). Haar broer en pa het egter beserings opgedoen en gaan net aan die swem deelneem.

Gabriël, Nicola en Theuns van Schalkwyk. Foto verskaf

“Ek en my pa en en my broer het ses maande gelede impulsief besluit om in te skryf.” Sy sê hulle is dankbaar vir almal wat hulle bygestaan het met hul voorbereiding en voel ongelooflik bevoorreg om in staat te wees om saam te kan deelneem.



MacFarlane Moleli, die Carte Blanche-TV-en-radiopersoonlikheid, neem weer vanjaar aan die Ysterman deel as ’n belofte aan wyle Andre Piehl, sy vriend wat in Januarie 2022 deur ’n vermeende dronkbestuurder omgery is terwyl hy fietsgery het.

“A Promise to Andre” is begin toe Moleli ’n belofte gemaak het aan Piehl om eendag self ’n volle Ysterman-wedren te voltooi.

Piehl, ’n driekampatleet en gesiene sakeman, het gesterf terwyl hy op ’n pad op die Wes-Rand, naby die Wieg van die Mensdom, ’n bekende fietsrygebied in Gauteng, gery het. Hy was ’n pa, ’n eggenoot, ’n sakeman; en ’n goeie vriend van Moleli.



Om sy vriend te vereer en sy belofte na te kom, het Moleli belowe om nie net ’n Ysterman te voltooi nie, maar om ook ’n veldtog te begin om bewustheid oor fietsryersveiligheid op te skerp, en om motoriste se bewustheid oor en gedrag jeens fietsryers en padgebruikers oor die algemeen te verbeter. 

Moleli het bewys dat enigiets moontlik is deur die Ysterman 2023 te voltooi. Die veldtog groei steeds en het ook ten doel om fondse in te samel om die verbetering van fietsryers- en voetgangerspadtekens en -merke te ondersteun.

“Ons is terug in Port Elizabeth vir Ysterman Suid-Afrika 2024. En ek kyk terug na hoe ver ons gekom het en die rede hoekom ons hierdie reis begin het. My lewe het vir altyd verander ná my belofte aan Andre, ek het 'n volledige Ysterman voltooi met ’n gewig van 106kg en slegs ses maande se voorbereiding. 

“Hierdie buitengewone en ondenkbare prestasie help talle mense om hul eie wenstreep oor te steek en iets te oorwin en verwerk wat hulle dalk gedink het onoorkombaar was.”

Volgens ’n riglyn deur organiseerders sal die wedlope Sondag gelyktydig tussen 05:00 en 06:30 begin terwyl die halfmarathon ná 16:00 voltooi sal word. Atlete wat aan die volle wedloop deelneem, het tot middernag.

Die atlete om te klop sal Leon Chevalier en Laura Philipp wees wat verlede jaar die mans- en vroueafdeling gewen het.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.