South Africa
Kieshof verwerp appèlaansoeke van vyf partye─── 10:01 Sat, 20 Apr 2024

“Hierdie aansoeke het geweldige implikasies gehad vir die vervaardiging van die stembriewe vir die komende verkiesing.”
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het ’n bevel van die Kieshof verwelkom wat vyf politieke partye se appèl teen hul uitsluiting om aan Mei-verkiesing deel te neem, van die hand wys.
Die besluit van die Kieshof Vrydag (19/4) baan die weg vir die OVK om stembriewe te begin druk.
Die aansoeke is ingedien deur Operasie Dudula, Arise South Africa, Cape Independence Party, Defenders of the People en die Independent South Africa National Civic Organisation (Independent Sanco).
Die OVK sê die partye voldoen nie aan die vereistes wat nodig is vir kandidaatbenoemings nie.
“Die Verkiesingskommissie waardeer die harde werk van die Kieshof om hierdie sake af te handel. Die aansoeke het geweldige implikasies gehad vir die vervaardiging van die stembriewe vir die komende verkiesing.”
Suid-Afrikaners gaan op 29 Mei stembus toe.
OFM Nuus cg/mc