On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

South Africa

FBI neem Suid-Afrikaner op skip in hegtenis weens skêraanvalle

───   10:03 Fri, 10 May 2024

FBI neem Suid-Afrikaner op skip in hegtenis weens skêraanvalle  | News Article
Norwegian Cruise Lines se toerskip, Encore. Foto: Norwegian Cruise Lines

“Ntando Sogoni kan tot 10 jaar tronkstraf en ’n boete van R4,6 miljoen opgelê word.”

’n Suid-Afrikaner wat deur die Amerikaanse FBI in hegtenis geneem is nadat hy na bewering verskeie mense aan boord ’n toerskip met ’n skêr gesteek het, kan tot 10 jaar tronkstraf en ’n boete van $250 000 (R4,6 miljoen) opgelê word, sou hy skuldig bevind word.

Ntando Sogoni (35), wat onlangs deur Norwegian Cruise Lines in diens geneem is, het Saterdag (4/5) by die redery se Encore-passasierskip in Seattle aangesluit vir ’n weeklange reis na Alaska. 




ABC-nuusnetwerk berig Sogoni se kollegas het opgemerk dat hy vreemd optree en een van die skip se reddingsbote in die water wou lanseer.

Volgens ’n mediaverklaring deur die Amerikaanse departement van justisie is hy na die skip se mediese sentrum geneem vir ’n assessering. “Hy het glo irrasioneel geword en ’n sekuriteitswag en ’n verpleër aangeval. Hy het daarna ’n ondersoekkamer binnegegaan waar ’n Amerikaanse vrou (75) behandel is.


“Hy het ’n skêr gegryp en die vrou verskeie kere in die arm, hand en gesig gesteek. Hy het ook twee veiligheidswagte wat tussenbeide getree het, gesteek – een in die kop en een in die rug en skouers. Nie een van die beserings was lewensgevaarlik nie.”

Sogoni is daarna in die skip se tronk aangehou en is Dinsdag (7/5) met die skip se aankoms in Juneau, Alaska, in hegtenis geneem.

Hy word aangekla van aanranding met 'n gevaarlike wapen en staar 'n maksimum straf van 10 jaar tronkstraf en ’n boete van $250 000 (R4,6 miljoen) in die gesig as hy skuldig bevind word.

Die rede vir Sogoni se beweerde aanval is nog nie duidelik nie.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg/mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.