On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

South Africa

Bestuurder sterf ná ongeluk wat pa en dogter van Pretoria se lewe eis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:27 Wed, 15 May 2024

Bestuurder sterf ná ongeluk wat pa en dogter van Pretoria se lewe eis | News Article
Louwrense Badenhorst en sy dogter Michelle. Foto: Facebook

“Die ongeluk het net ná 03:30 op die hoek van Park- en Troyestraat in Sunnyside gebeur.”

Die polisie wag nog op die uitslag van die lykskouing van die BMW-bestuuder wat die noodlottige ongeluk veroorsaak het waarin ’n pa en dogter van Pretoria onlangs gesterf het.

Jabulani Mavhugu Khangala (40) was ná die ongeluk onder polisiebewaking in die hospitaal en het Sondag (12/5) gesterf.

Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder by AfriForum en ’n goeie vriend van Badenhorst, het dit aan OFM Nuus bevestig. Kelder en Badenhorst het jare lank saam in die skool se beheerliggaam gedien.

Louwrense Badenhorst (53), adjunkhoof van die Laerskool Tuinrand, en sy dogter Michelle (22) is op slag dood nadat ’n swart BMW op 3 Mei in hul voertuig vasgejaag het.

Die Badenhorst-gesin: Michelle, Annie (agter), Kaylee (voor), Devin en Louwrense (heel regs). Foto: Facebook/Louwrense Badenhorst 

Badenhorst en sy dogter was op pad na die Zuid-Afrikaans-hospitaal in Muckleneuk nadat Michelle haar ouers wakker gemaak en van maagpyn gekla het. Die ongeluk het net ná 03:30 op die hoek van Park- en Troyestraat in Sunnyside gebeur.

Die polisie het kort voor die ongeluk die BMW agternagesit omdat die bestuurder verdag opgetree het, sê Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder. “Khangala het weggejaag en die polisie kon hom nie inhaal nie. Hy het toe in Sunnyside met die Peugeot 508 gebots.”

Louwrense Badenhorst. Foto: Facebook/Laerskool Tuinrand

’n Gedenkdiens is Maandag vir Badenhorst en Michelle by die Laerskool Tuinrand in Claremont, Pretoria, gehou. Hulle is Vrydag vanuit die AGS Herlewingsentrum in Mayville, Pretoria, ter ruste gelê.

Tydens die gedenkdiens, wat regstreeks gestroom is, het Devin Badenhorst (19) gesê hy het nooit verwag dat hy sy pa so vroeg sou moes groet nie, maar dat hy nou sy en sy pa se tennisdroom “voluit sal leef”.

Devin is ’n Suid-Afrikaanse tennisspeler en ’n eerstejaarstudent aan die Christelike Baylor-universiteit in Waco in die Amerikaanse deelstaat Texas. Badenhorst en sy vrou, Annie, was 25 jaar getroud en het ook ’n laatlam, Kaylee (11).

OFM Nuus/Charné van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.