On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

MK-party sal moet herorganiseer ná Zuma-uitspraak, sê ontleder

───   10:17 Tue, 21 May 2024

MK-party sal moet herorganiseer ná Zuma-uitspraak, sê ontleder | News Article
Voormalige president Jacob Zuma by die Appèlhof in Bloemfontein. Foto: X/Emacius Fotografie

“Intussen word Jabulani Khumalo, stigter van die MK-party, se poging om Jacob Zuma as die MK-partyleier te verwyder, Dinsdag in die Kieshof aangehoor.”

’n Politieke ontleder sê die uMkhonto weSizwe-party (MK-party) sal moet herorganiseer, nadat die Konstitusionele Hof Jacob Zuma verbied het om na die parlement terug te keer.

Die hof het Maandag (20/5) beslis die oudpresident is nie geregtig om vir die Nasionale Vergadering te staan nie. Hy is in 2021 skuldig bevind aan minagting van die hof en is daarvoor gevonnis. Volgens die Grondwet moet vyf jaar verloop sedert die voltrekking van sy vonnis.

Levy Ndou, politieke ontleder,  het gesê hulle moet op die wet fokus en iemand identifiseer wat die party se verteenwoordiger in die parlement kan wees.

Die uMkhonto Wesizwe-patry het die uitspraak as “gebrekkig en botsend” beskryf, maar het sy ondersteuners aangemoedig om kalm te bly. “As hulle wou hê alles moet rondom Jacob Zuma gedoen word, kan dit nadelige gevolge vir die party inhou,” sê Ndou.

“As Jacob Zuma selfsugtig is en net wil hê hy moet die party lei en verteenwoordig, sal dit nadelig vir die party wees.”

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Maandag se besluit van die Grondwethof – om die OVK se vroeëre diskwalifikasie van Jacob Zuma as kandidaat te handhaaf – verwelkom. In ’n verklaring wat vrygestel is kort nadat die hof sy uitspraak gelewer het, het die kommissie gesê die bevel maak finale voorbereidings voor die verkiesing moontlik.

Suid-Afrikaners sal oor agt dae vir nasionale en provinsiale regerings stem. Die kommissie het dit ook duidelik gemaak hoewel Jacob Zuma se gesig op die stembrief bly, sal sy naam van die MK-party se kandidatelys verwyder word.

Intussen het pres. Cyril Ramaphosa neutraal op die hofuitspraak gereageer. “Al wat ek kan sê, is ek het kennis geneem van die besluit deur die Grondwethof as die hoogste besluitnemende liggaam in ons land. Die hof mag beslis oor geskille tussen burgers, en hy het beslis, en dit is wat dit is.”

Terselfdertyd deel Neeshan Balton, woordvoerder van die Ahmed Kathrada-stigting, sy siening in reaksie op die hofbeslissing die kommissie: “Ons verwelkom die uitspraak. 

“Ons dink dit is goed beredeneerd, en dit bevestig weer ’n vonnis weens minagting van die hof is ’n uiters belangrike vonnis. Dit is nie ’n vonnis wat ligtelik afgemaak kan word nie. Veral minagting van die Grondwethof – dit is ’n baie ernstige oortreding.

“Ons is bly die hof het nou al die kwessies en die verwarring wat deur die Kieshof veroorsaak is, opgeklaar, en dat mnr. Zuma nie kan staan nie.”

Die Kathrada-stigting, Corruption Watch en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet het as vriende van die hof by die OVK aangesluit.


Intussen word Jabulani Khumalo, stigter van die MK-party, se poging om Jacob Zuma as die MK-partyleier te verwyder, Dinsdag in die verkiesingshof aangehoor.

Khumalo is hoopvol die hof sal Zuma se skuif na die party se leierskap ongeldig verklaar.

Voorts wil hy hê die hof moet die OVK verplig om hom as partyleier te registreer, en voeg by Zuma het die amp op “bedrieglike wyse” beklee.

Khumalo, wat die MK-party in Desember verlede jaar gestig het, is na bewering verlede maand uit die party gedryf.

OFM Nuus cg/mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.