South Africa
#GetReadyToVote: My kinders, my naels, my eie pen?─── 06:30 Wed, 29 May 2024

“Verskeie ondernemings staan tou om jou te bedank vir jou stem met onder meer ’n gratis koffie, ’n oliebol, dalk ’n welverdiende bier.”
“Ongelukkig herhaal die tema van misleidende inligting met elke verkiesing,” het die OVK gesê en verskeie gerugte opgeklaar wat weer vanjaar die rondte doen. Dit wissel van vals naels, ink wat verdwyn en kinders by stemlokale, tot bedorwe stembriewe.
“Dit is ook nie waar dat jy nie met kunsnaels kan stem nie. Die onuitwisbare ink wat gebruik word om duime te merk, is doeltreffend en is een van ’n aantal voorsorgmaatreëls om die integriteit van verkiesingsuitslae te beskerm.”
Nog misleidende inligting wat aan verskeie mense landwyd uitgestuur is, is ’n bewering deur iemand wat glo by ’n stemlokaal werk en toesig hou oor die tellery. Hy het inwoners aangemoedig om hul eie pen te gebruik omdat die pen wat verskaf word “ink gebruik wat uiteindelik vervaag, en sodoende die stem bederf”.
Die verdwynende ink-e-pos is heeltemal belaglik, sê Thabani Ngwira, provinsiale kommunikasiebeampte van die OVK. “Ons reik outentieke penne uit; daar steek geen waarheid in die gerug van ink wat vervaag sodra jy gestem het nie.” As dit jou gemoedsrus sal gee, mag jy egter jou eie swart pen saamneem stemlokaal toe.
Ngwira versoek kiesers om die agterkant van hul stembriewe na te gaan om seker te maak dit is gestempel. “Daar was gevalle waar stembriewe nie gestempel is nie weens menslike foute. Ek sal alle kiesers aanraai om beslis die agterkant van die stembrief na te gaan.”
‘Fyn onderskeid tussen bedorwe stemme en kiesersfoute’
’n Verskynsel wat dikwels oor die hoof gesien word, is bedorwe stemme. ’n Bedorwe stem is ’n stembrief wat onbehoorlik gemerk of ingevul is tot die punt waar dit nie as ’n geldige stem getel kan word nie. Hierdie stembriewe kan opsetlik bederf word as ’n vorm van protes of weens foute wat deur kiesers gemaak word:
- Enige skrif oor die name van die gelyste partye.
- Meer as een kruisie per stembrief.
- Bykomende skrif met pyle.
- Woorde of boodskappe op die stembrief.
- Persoonlike besonderhede op die stembrief.
‘Kleingoed mag saamkom na die stemlokaal’
As jy ’n stembrief verkeerd gemerk het en dit besef voordat jy die papier in die stembus plaas, vra net die voorsittende beampte vir ’n nuwe stembrief. Maak asseblief seker dat die verkeerde stembrief as “gekanselleer” gemerk is. Sodra jou stembrief in die stembus geplaas is, kan dit nie verwyder word nie.
En ja, natuurlik mag jy jou baba of kinders saamneem na die stemlokaal. Dit is juis vir hulle toekoms wat jy moet gaan stem.
Meta het reeds aangekondig hoe hy beplan om Suid-Afrikaners te help om fopnuus en vals platforms te navigeer; nou het TikTok, die geliefde platform van jong kiesers, sy planne bekend gemaak.
In vennootskap met die OVK en toonaangewende burgerlike organisasies verteenwoordig TikTok se “verkiesingsentrum” ’n stap in die rigting van die beveiliging van die integriteit van die verkiesingsproses. Dit is beskikbaar in plaaslike tale soos isiZulu, Afrikaans, Sesotho, Setswana en Engels.
“Ons in-app-verkiesingsentrum het gesaghebbende inligting oor die Suid-Afrikaanse verkiesings van die OVK. Die beskerming van die integriteit van ons platform, veral rondom verkiesings, is ’n verantwoordelikheid wat ons ernstig opneem.
“Ons is trots daarop om ’n plek te wees wat mense bymekaar bring, en ons werk hard om skadelike waninligting van ons platform af te hou,” sê Fortune Mgwili-Sibanda, TikTok se direkteur van openbare beleid en regeringsbetrekkinge.
Die OVK se hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, voeg by: “Die ontluikende gebruik van digitale media die laaste paar jaar het ’n ooreenstemmende oplewing in digitale disinformasie gesien, veral op sosialemediaplatforms.
‘Dink weer voordat jy jou merkie probeer afkrap’
“Verkiesingsprosesse het nie dit ontduik nie. As dit ongemerk gelaat word, kan hierdie verskynsel die uitvoering van geloofwaardige verkiesings ondermyn. Ons loof TikTok vir sy pogings om die TikTok-gemeenskap op te voed en die potensiële verspreiding van skadelike verkeerde inligting te bekamp.”
Nadat jy (en jou kinders) julle tussendeur al die vals nuus genavigeer het met jou gemerkte duim, kunsnaels of nié, staan verskeie ondernemings tou om jou te bedank vir jou stem met onder andere ’n gratis koffie, ’n oliebol of dalk ’n welverdiende bier. Dink dus weer of jy jou merkie wil afkrap.