South Africa
Dis jou plig om kindermishandeling aan te meld─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:01 Fri, 14 Jun 2024

“Ons samelewing het ’n Grondwet wat die hoogste agting vir kinderregte en gelykheid voorstaan.”
Nasionale Kinderbeskermingsweek (KBW) word jaarliks van 28 Mei tot 7 Junie in Suid-Afrika gehou om bewusmaking oor die regte van kinders te bevorder.
Ria Malan, direkteur maatskaplike dienste by Vrystaat-Versorging in Aksie, vertel meer oor wat kinderbeskerming behels. Die veldtog, wat in 1997 begin het, poog om alle sektore van die samelewing te mobiliseer om sodoende seker te maak dat kinders versorg en beskerm word.
“Hoewel hierdie inisiatief deur die minister van maatskaplike ontwikkeling gelei word, is dit elke burger se plig om ’n rol te speel in die beskerming van kinders en om ’n veilige omgewing vir hulle te skep,” sê Malan. Sy is al 33 jaar ’n maatskaplike werker.
Kinders moet beskerm word en sorgvry kan speel. Foto: iStock
“Ons samelewing het ’n Grondwet wat die hoogste agting vir kinderregte en gelykheid voorstaan. Art. 28 van die Suid-Afrikaanse Grondwet beklemtoon die beskerming van kinders teen geweld, uitbuiting en mishandeling as ’n basiese waarde en verpligting.”
Malan sê mishandeling kan in verskillende vorme voorkom en dat sekere faktore die kanse op mishandeling verhoog.
To the ones who make our world brighter - Happy #InternationalChildrensDay!
— ChildlineSouthAfrica (@ChildlineSA) June 1, 2024
Call us 24X7 on 116 (free from all networks) OR chat to us on our website, Mon-Fri, 11am-1pm and 2-6pm.
Follow us on our WhatsApp Channel now by clicking on this link:https://t.co/6cdxwDYcVx pic.twitter.com/GLF1dZwbrk
Tipe kindermishandeling
- Liggaamlike mishandeling: Die gebruik van fisieke geweld om ’n kind skade aan te rig, soos stampe, brandwonde, skrape en gewelddadige skudding.
- Emosionele mishandeling: Voortdurende gedrag en houdings van ouers wat die gemoed en selfbeeld van kinders ernstig skade berokken, insluitende ’n geskree, beledigings, minagting en dreigemente.
- Seksuele mishandeling: Seksuele gedrag of dade wat op ’n kind afgedwing word, soos grooming, betasting, verkragting, seksuele versoeke, masturbasie in die teenwoordigheid van ’n kind, en blootstelling aan pornografie.
- Verwaarlosing: Versuim van ouerlike verantwoordelikhede om in die basiese fisieke, intellektuele, emosionele of sosiale behoeftes van die kind te voorsien.
Foto: Ter illustrasie iStock
Risikofaktore vir kindermishandeling
- Kinders jonger as vier en tieners.
- Ongewenste kinders wat nie aan ouers se verwagtinge voldoen nie.
- Kinders met liggaamlike of geestelike gestremdhede.
- Kinders wat baie huil.
- Ouers wat sukkel om met kinders ’n band te vorm of wat self as kinders mishandel is.
- Onrealistiese verwagtinge oor kinderontwikkeling.
- Finansiële probleme, drank- of dwelmverslawing, gesinsgeweld, en ’n gebrek aan ondersteuning van familielede.
Sy sê kindermishandeling het onmiddellike gevolge en emosionele, sosiale en gedragsprobleme op lang termyn.
Kindermishandeling kan tot gedragsprobleme lei. Foto: iStock
“Die erns van die invloed wissel na gelang van die frekwensie, intensiteit en duur van die mishandeling, sowel as die kind se eienskappe en die ondersteuning wat hulle ontvang.”
Om kindermishandeling te bekamp stel welsynsorganisasies en regeringsagentskappe programme en wetgewing in werking, maar openbare deelname is van kardinale belang, veral in die rapportering van mishandeling.
‘Versuim om dit aan te meld kan tot vervolging lei’
“Kragtens art. 110 van die Kinderwet, 38 van 2005, is enigeen wat bewus is van kindermishandeling wetlik verplig om dit by ’n aangewese kinderbeskermingsorganisasie, soos VVA of die polisie aan te meld. Die identiteit van die persoon word vertroulik gehou, en versuim om mishandeling aan te meld kan tot strafregtelike vervolging lei.”
Wanneer ’n maatskaplike werker ’n aanmelding van kindermishandeling ontvang, begin sy onmiddellik met ’n voorlopige ondersoek om te bepaal of die kind beskerming benodig.
“Die ondersoek behels gesprekke met die kind, ouers, skole, kerke, die polisie en ander relevante bronne. Indien die kind in lewensgevaar is, kan die maatskaplike werker die kind onmiddellik verwyder na veiligheid, soos ’n kinder- en jeugsorgsentrum of goedgekeurde veiligheidsouers.”
‘Jou optrede kan ’n kind se lewe verander’
Volgens Malan word ’n statutêre proses in werking gestel om die kind in alternatiewe sorg te plaas. “In gevalle van ernstige mishandeling word ’n klag by die polisie aanhangig gemaak en versuim om mishandeling aan te meld kan tot strafregtelike vervolging lei.”
’n Vorm 22 word voltooi om die voorval op die knderbeskermingsregister te registreer, wat poog om toekomstige voorvalle te voorkom.
“Dit is in elke Suid-Afrikaanse burger se hande om die kringloop van verwaarlosing, mishandeling, geweld en uitbuiting van kinders te stop. Deur saam te werk, kan ons veiliger en gesonder gemeenskappe skep sodat ons kinders kan floreer. Meld enige vermoede van kindermishandeling aan – jou optrede kan ’n kind se lewe verander,” sê Malan.
OFM Nuus/Charné van der Merwe dg