On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

ANC, DA kom ooreen oor eenheidsregering

───   12:40 Fri, 14 Jun 2024

ANC, DA kom ooreen oor eenheidsregering | News Article
Paul Mashatile en president Cyril Ramaphosa tydens die eerste sitting van die Nasionale Vergadering. Foto: X

“Daar is nêrens in die wêreld ’n land waar mense binne twee weke so ’n ooreenkoms kon onderhandel nie.”

Die ANC en die DA het ’n voorlopige raamwerk onderteken om ’n regering van nasionale eenheid te vorm wat die IVP insluit.

Helen Zille, DA- federale voorsitter, het glo gesê as die verrigtinge van die eerste sitting van die Nasionale Vergadering begin voordat daar handtekeninge op papier is, sal die DA nié saam met die ANC stem nie.

Zille het voor die parlementsitting bevestig dat ’n ooreenkoms tussen die DA en ANC nog nie onderteken is nie. Die dokument is egter volgens News24 Vrydag (14/6) tydens ’n pouse van die eerste parlementsitting by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum deur partyverteenwoordigers onderteken.

Dit volg op sewe dae van intense onderhandelinge oor Suid-Afrika se toekoms ná verlede maand se nasionale verkiesing waarin die ANC sy meerderheid verloor het.

Fikile Mbalula, die ANC se sekretaris-generaal, het die dokument namens sy party onderteken, terwyl Helen Zille namens die DA geteken het.

Die ooreenkoms sluit klousules in wat die samestelling van die kabinet sal bepaal, asook dié van die provinsiale regering in Gauteng en KwaZulu-Natal waar geen party ’n volstrekte meerderheid behaal het nie. Dit gee besonderhede oor die uitvoerendebesluitnemingsproses, ’n konflikbeslegtigingsmeganisme, en verskaf riglyne vir beleidstellings en die finalisering van die nasionale begroting.

Die ooreenkoms sal bekend gemaak word en sal dien as voorloper van ’n omvattende ooreenkoms wat in die volgende paar weke gesluit sal word.

Pres. Cyril Ramaphosa en John Steenhuisen, DA-leier, het Vrydagoggend telefonies gepraat oor hoe besluitneming in die kabinet gaan werk, en daar is ooreengekom dat die konsep van “voldoende konsensus” toegepas sal word.

Dit beteken dat, sou daar ’n ooreenkoms wees tussen partye wat minstens 60% van die setels in die NV uitmaak, ’n besluit geneem kan word. Die twee leiers het Donderdag ’n ontmoeting van aangesig tot aangesig gehad, wat na bewering hartlik en positief was. Albei was ontvanklik om konsensus te bereik om die proses vorentoe te beweeg.

‘Dit is nog nooit voorheen gedoen nie’

Suid-Afrika se nuutverkose parlement sal na verwagting Ramaphosa herkies om ’n ongekende koalisieregering te vorm. Zille het onthul dat onderhandelinge nog voor die sitting aan die gang was oor die speaker van die Nasionale Vergadering en adjunkspeakerposte.

“Ons praat steeds oor die laaste klousules van die ooreenkoms, waaroor ons nog nie ooreengekom het nie. Dit is nog nooit voorheen gedoen nie. Daar is nêrens in die wêreld ’n land waar mense binne twee weke so ’n ooreenkoms kon onderhandel nie; in Duitsland duur dit maande,” het Zille gesê.

Intussen het die EFF, Al Jama-ah, UDM, United Africans Transformation, African Transformation Movement en die PAC aan Mbalula geskryf en gevra vir ’n vergadering voor die eerste sitting van die sewende parlement. Die ses partye, wat hulself die Progressiewe Koukus noem, is ontevrede omdat hulle uitgesluit is van besprekings oor die RNE.

Ten spyte daarvan dat die EFF Donderdag gesê het die party sal nie aan die ANC se regering van nasionale eenheid deelneem nie, het verteenwoordigers ’n uur laat vir verrigtinge opgedaag.

OFM Nuus cg/dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.