On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

South Africa

Dwelmplaassaak van R1 miljard in Groblersdal eersdaags in hof

───   06:40 Mon, 11 Nov 2024

Dwelmplaassaak van R1 miljard in Groblersdal eersdaags in hof | News Article
Vyf mans is op die sogenaamde dwelmplaas in hegtenis geneem. Foto: NVG

Vyf mans wat in hegtenis geneem is ná die ontdekking van dwelms ter waarde van R1 miljard op ’n plaas in Limpopo, is tot vandeesweek uitgestel vir ’n nuwe borgtogaansoek.

Mexikaanse burgers Gonzales Jorge, Gutierrez Lopes en Rodriguez Vidan, sowel as Suid-Afrikaners Frederick Botha en Simphiwe Khumalo, is in Julie tydens ’n klopjag op ’n plaas in Groblersdal in hegtenis geneem.

Hulle staan tereg op aanklagte van die vervaardiging en handel in dwelms, die oortreding van die Immigrasiewet, en geldwassery nadat die polisie ’n groot besending kristalmetamfetamien en dwelmvervaardigingstoerusting op die plaas ontdek het.

Die polisie het die ontdekking op ’n plaas in die Groblersdal-distrik in die Limpopo-provinsie gedoen. Foto: SAPD

“Die saak is tot 15 November 2024 uitgestel vir verdere ondersoek en reëlings vir borgtog op nuwe feite,” het Mashudu Malabi-Dzhangi, NVG-streekwoordvoerder, gesê.

Jorge, Lopes en Vidan het voorheen borgtog laat vaar, terwyl Botha en Khumalo in September borgtog geweier is.

Die polisie het groot hoeveelhede chemikalieë gevind wat gebruik word om onwettige dwelms te maak, insluitend asetoon en kristalmetamfetamien. Foto: SAPD

In Januarie vanjaar het die polisie gesê sowat 131 dwelmlaboratoriums is sedert 2019 regoor die land gesluit, en bygevoeg dat gedurende die feesseisoen verlede jaar meer as 19 000 mense vir dwelmbesit gearresteer is.

Tot dusver vanjaar het die Valke tien geheime dwelmlaboratoriums ontdek en 34 mense in hegtenis geneem terwyl hulle die oorlog teen dwelms voortsit. Suid-Afrika word as potensieel een van die “grootste metamfetamien-verbruikersmarkte in die wêreld” genoem, het navorsers by die Global Initiative Against Transnational Organised Crime in ’n 2021-verslag uitgelig.

Dit is ook verlede jaar deur die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Misdaad (UNODC) beskryf as “ ’n aantreklike dwelmportaal”. Die UNODC het die land se groeiende mark vir sintetiese dwelms toegeskryf aan sy “poreuse grense”, sowel as sy geografie en internasionale handelskakels.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.