On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

South Africa

Trump aanvaar uitnodiging na G20-beraad in Johannesburg, sê Ramaphosa

───   13:28 Mon, 26 May 2025

Trump aanvaar uitnodiging na G20-beraad in Johannesburg, sê Ramaphosa | News Article
Pres. Cyril Ramaphosa en pres. Donald Trump in die Withuis. Foto: GCIS

Pres. Donald Trump van die VSA het glo sy voorneme bevestig om die komende G20-leiersberaad in November in Johannesburg by te woon, het Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa Maandag (26/5) aangekondig.

Ramaphosa het Washington verlede week besoek toe hy Trump agter geslote deure in die Withuis ontmoet het. 

Hoewel die gesprekke voorafgegaan is deur ’n gespanne openbare ontmoeting – waartydens Trump ’n omstrede samestelling van video’s gewys het wat om ’n volksmoord op wit mense in Suid-Afrika te probeer staaf – het dit uiteindelik die grondslag gelê vir hernude bilaterale samewerking. 

Suid-Afrika berei voor om tydens die beraad die G20-presidentskap aan die Verenigde State oor te dra. Trump se teenwoordigheid dui op die herbevestiging van Amerika se sentrale rol in die globale ekonomiese forum, selfs te midde van onlangse diplomatieke spanning.

“Hoewel ons nie vir moeilike gesprekke teruggedeins het nie, was die hoofdoel van ons besoek om die strategiese ekonomiese vennootskap tussen Suid-Afrika en die Verenigde State te versterk,” skryf Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief. Hy meen Trump se aanvaarding van die G20-uitnodiging weerspieël ’n gedeelde belangstelling in die uitbreiding van handels- en beleggingsbande.

Ramaphosa het die uitnodiging tydens die besoek aan Washington gerig en Trump aangemoedig om ’n regering- en sakeafvaardiging te stuur om geleenthede in Suid-Afrika te ondersoek.

Amerikaanse amptenare is ingelig oor Suid-Afrika se strukturele hervormings om dit makliker te maak om hier sake te doen en ’n beleggersvriendeliker omgewing te skep. Die Amerikaanse staatsdepartement het reeds voorheen lof uitgespreek oor Suid-Afrika se beleggingsklimaat en verwys na sy sterk finansiële infrastruktuur en onafhanklike regbank.

Ramaphosa sê die besoek het gehelp om die toon van die verhouding te herstel en kanale vir dieper betrokkenheid oopgemaak. 

“Ons is tevrede dat ons besoek aan Washington ’n grondslag vir groter samewerking gelê het. Nouer samewerking kan tot albei lande se voordeel strek.”


Hy vra dat Suid-Afrikaners moet saamstaan om plaaslike probleme, veral misdaad en werkloosheid, die hoof te bied om meer beleggers te lok. 

“Om ons ekonomie te laat groei en werk te skep, moet ons saamwerk – regering, besighede en die publiek – om ons interne uitdagings te oorkom.”

’n Historiese mylpaal is behaal toe Suid-Afrika op 1 Desember die G20-presidentskap oorgeneem het tot 30 November volgende jaar. Dit is die eerste keer dat ’n Afrikaland dié wêreldwye ekonomiese forum lei.

Die G20-presidentskap roteer jaarliks

Die G20 het nie ’n permanente sekretariaat of personeel nie. Die G20-presidentskap roteer jaarliks tussen die lede en word gekies uit ’n ander streeksgroepering van lande. 

Die 19 lidlande word verdeel in vyf groepe wat elk uit ’n maksimum van vier lande bestaan. Die meeste van die groepe word op ’n streekbasis gevorm; lande uit dieselfde streek word gewoonlik in dieselfde groep geplaas.

Slegs groep 1 (Australië, Kanada, Saoedi-Arabië en die Verenigde State) en groep 2 (Indië, Rusland, Suid-Afrika en Turkye) volg nie hierdie patroon nie. Groep 3 sluit Argentinië, Brasilië en Mexiko in; groep 4 sluit Frankryk, Duitsland, Italië en die Verenigde Koninkryk in; en groep 5 sluit China, Indonesië, Japan en Suid-Korea in. Die EU en die AU is nie lede van enige van hierdie streeksgroepe nie.

Pres. Cyril Ramaphosa en pres. Donald Trump in die Withuis. Foto: GCIS

Elke jaar neem ’n ander land uit ’n ander groep die G20-presidentskap oor. Die lande in ’n groep is elk ewe geregtig om die presidentskap te beklee wanneer dit hul groep se beurt is. 

Die G20-presidentskap is verantwoordelik vir die samestelling van die G20-agenda in oorleg met ander lede en in reaksie op ontwikkelinge in die wêreldekonomie.

Om kontinuïteit te verseker, word die presidentskap ondersteun deur ’n driemanskap (troika), wat bestaan uit die huidige, vorige en volgende gasheerlande. Tydens Suid-Afrika se presidentskap is die lede van die G20-troika Brasilië, Suid-Afrika en die Verenigde State.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.