On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

South Africa

Twee Suid-Afrikaanse ingenieurs vrygelaat ná jare in Ekwatoriaal-Guinee

───   10:20 Sun, 22 Jun 2025

Twee Suid-Afrikaanse ingenieurs vrygelaat ná jare in Ekwatoriaal-Guinee | News Article
Minister Ronald Lamola, Suid-Afrikaanse minister van internasionale betrekkinge en samewerkinge, het saam met Potgieter en Huxham se families pres. Cyril Ramaphosa van die aanloopbaan af gebel. Die president het Frik en Peter hartlik tuis verwelkom. Foto verskaf/Potgieter- en Huxham-families

Die Suid-Afrikaanse ingenieurs Frik Potgieter en Peter Huxham is vrygelaat ná meer as twee jaar se onregmatige aanhouding in Ekwatoriaal-Guinee.

Die families van Frik Potgieter en Peter Huxham het Saterdag (21/6) bevestig dat die twee onskuldige Suid-Afrikaanse ingenieurs, wat sedert 9 Februarie 2023 onregmatig in Ekwatoriaal-Guinee aangehou is, vrygelaat is en nou weer veilig op Suid-Afrikaanse bodem is.

Hul vrylating volg op ’n kwytskelding deur die president van Ekwatoriaal-Guinee, waarvoor die families uiters dankbaar is. Dit bring ’n einde aan ’n ontstellende beproewing van angs, onsekerheid en onwrikbare pogings deur baie om hul vryheid te verseker.

In Julie 2024 het die Verenigde Nasies se Werkgroep oor Arbitrêre Aanhouding bevind dat hul aanhouding arbitrêr, onregmatig en in stryd met verskeie internasionale menseregte-verpligtinge was. Die VN het destyds ook hul onmiddellike vrylating geëis.

“Ons is oorweldig deur verligting en vreugde. Die afgelope twee jaar en vier maande was ondenkbaar pynlik vir albei ons families. Vandag kan ons uiteindelik sê: Frik en Peter is veilig terug by die huis,” het familie-woordvoerders Shaun Murphy en Francois Nigrini gesê.

Die families het hul diepste waardering uitgespreek teenoor almal wat onvermoeid agter die skerms gewerk het, insluitend Frik en Peter se werkgewer (SBM Offshore), die Suid-Afrikaanse en Britse regerings, internasionale diplomatieke vennote, parlementslede, regspanne, Hostage International en ander burgerlike organisasies, asook die media.

Hulle het ook hul dank uitgespreek teenoor die voormalige minister van Internasionale Betrekkinge, dr. Naledi Pandor, en die huidige minister, Ronald Lamola, wat Ekwatoriaal-Guinee besoek het as gesante van president Cyril Ramaphosa.

Verder bedank hulle die tientalle duisende mense wêreldwyd wat petisies onderteken het, mediabewusmaking ondersteun het, emosionele ondersteuning gebied het en vir hul veilige terugkeer gebid het.


"Hul terugkeer huis toe is die resultaat van gesamentlike pogings oor baie, baie maande, en ons is diep dankbaar teenoor elkeen wat ’n rol gespeel het om hul vryheid te verseker.

“Dit was ’n lang en moeilike reis. Ons wil elke persoon bedank wat saam met ons gestaan het; julle ondersteuning het ons deur ons donkerste oomblikke gedra. Ons vra nou respekvol vir privaatheid en ruimte terwyl Frik, Peter en hul families begin herstel,” het die families gesê.

Mediaverklaring cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.