South Africa
Begroting aanvaar, nou kom implementering─── 12:32 Thu, 24 Jul 2025

Suid-Afrika het ’n belangrike mylpaal onder die jaar oue regering van nasionale eenheid (RNE) behaal: Die nasionale begroting van R2,3 triljoen vir die 2025/26-boekjaar is op pad om wet te word.
Die Nasionale Vergadering het Woensdag (23/7) die Begrotingswetsontwerp goedgekeur toe 262 LP’s daarvoor en 90 daarteen gestem het.
Indien dit deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) goedgekeur en deur die president in die komende weke onderteken word, sal die wetsontwerp befondsing ontsluit vir staatsdepartemente, maatskaplike toelaes, infrastruktuur, en vername hervormings om ekonomiese groei aan te dryf en openbare dienste te verbeter.
’n Keerpunt in regering
Dit is die eerste nasionale begroting wat goedgekeur word onder die RNE, ’n politieke koalisie wat ná die 2024-verkiesing gevorm is. John Steenhuisen, DA-leier en minister van landbou, beskryf dit as ’n “keerpunt vir aanspreeklikheid”.
“Hierdie oomblik is geskiedkundig, nie net vir die inhoud van die begroting nie, maar omdat dit die eerste is wat onder die RNE aanvaar is.”
Today, the DA voted in favour of the National Budget, contained in the Appropriation Act, in Parliament, marking the successful conclusion of the 2025 budget process. The DA will continue to lead with principle and purpose as we work to build a capable and ethical state. ???? pic.twitter.com/2122OOA0Bg
— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) July 23, 2025
Steenhuisen sê die DA het ’n sleutelrol gespeel in die vorming van die finale wetsontwerp en was suksesvol teen voorstelle soos ’n 2% BTW-verhoging gekant, berig Jacaranda FM. “Die belangrikste is dat ons die ANC se voorgestelde 2%-verhoging van die BTW suksesvol geblokkeer het, wat andersins ’n onregverdige las op reeds sukkelende Suid-Afrikaanse huishoudings sou geplaas het.”
Hy verwelkom ook pres. Cyril Ramaphosa se besluit om die voormalige minister van water en sanitasie, Senzo Nkabane, van sy amp te onthef. “Hierdie stap was nodig, gepas, en dui op ’n hernude verbintenis om die integriteit van die RNE te herstel.”
Steenhuisen versoek voorts die presidensie om die geskilbeslegtingsmeganisme van die RNE dringend te implementer. “Daarsonder loop die regering gevaar om deur binnegevegte ondermyn te word.”
Opposisie kritiseer begroting as onvoldoende
Ten spyte van breë steun van partye soos die ANC, IVP, VF Plus, ActionSA en die UDM, verwerp opposisiepartye soos die EFF, MK Party en ATM die wetsontwerp.
MK Party-LP Wesley Douglas beskryf dit as “fisiek gebrekkig en moreel bankrot”.
Hy voeg by: “Hierdie wetsontwerp is ’n finansiële illusie. Dit behels die afskaal van hospitale, die sluiting van skole, en skuld van R1 miljard per dag wat gediens moet word.”
Ms @OmphileMaotwe from the @EFFSouthAfrica said they reject the #AppropriationBill because people have informed them that the budget before the NA will not increase government spending, will not eradicate pit toilets, cannot hire more doctors, nurses, teachers, will not grow the… pic.twitter.com/fVBXM55JIS
— Parliament of RSA (@ParliamentofRSA) July 23, 2025
EFF-LP Omphile Maotwe is bekommerd oor kritieke personeeltekorte en onderbefondsing van basiese dienste. “Daar is geen wysiging om die 9 000 werklose dokters aan te stel of om onderwysbegrotings te verhoog om onderwysertekorte en puttoilette uit te skakel nie.”
Sy waarsku ook die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is op die rand van ineenstorting.
The Chairperson of the Standing Committee on Appropriations, Dr @MmusiMaimane said during the Debate on the Appropriation Bill said that the country's inherent problem is a problem of growth. "As our economy isn't growing it means we have got lesser resources to distribute to our… pic.twitter.com/HciC0v3iqW
— Parliament of RSA (@ParliamentofRSA) July 23, 2025
ATM-LP Vuyo Zungula kritiseer die wetsontwerp omdat dit nie strukturele ekonomiese transformasie of die styging in lewenskoste aanspreek nie. “Dit sluit verhogings in brandstof- en elektrisiteitspryse in sonder enige duidelike maatreëls vir armoedeverligting.”
Die begrotingswetsontwerp beweeg nou na die NRVP vir finale goedkeuring. Indien dit slaag, sal dit na die president gaan om as wet bekragtig te word wat die weg sal baan vir departemente om geld te begin toeken en belangrike staatsprogramme uit te voer.
OFM Nuus mvh