On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

South Africa

Namakwaland pronk met sy tapyt van veldblomme

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:15 Sat, 16 Aug 2025

Namakwaland pronk met sy tapyt van veldblomme | News Article
Die blomme is die tyd van die jaar besonder mooi. Foto: Sanparke

Van vroeg Augustus tot middel September ná goeie winterreën verander die droë Namakwaland-landskap en lok duisende besoekers.

Die ikoniese blomseisoen by die Namaqua Nasionale Park is in volle swang en weereens spog die landskap met sy kleur en prag.

As deel van die wêreldwye belangrike Sukkulente Karoo-bioom het die park meer as 3 500 plantspesies. Ongeveer ’n duisend kom nêrens anders voor nie en maak dit ’n biodiversiteitsbrandpunt, sê JP Louw, Sanparke-woordvoerder.

Al die veld is vrolik met lieflike blomme. Foto: Sanparke

“Die park bied staproetes soos die 5 km-sirkelroete by Skilpad, waar die veld lewendig is met kleur. Die velde is in volle bloei en bied  ’n vreedsame, toeganklike manier om die streek se ongelooflike biodiversiteit te verken.” 

Besoekers aan die park kan ’n skouspelagtige vertoning van veldblomme geniet, insluitend Namakwalandse arctotis (bittergousblom), Namakwa-valskermmadeliefie (bergmagriet), Kaapse gousblom (soetgousblom), Namakwalandse madeliefie, sambreeltjies, bokbaaivygies, glansogies, blou en wit sporries, wit-soe, verskeie Oxalidaceae (suurrings),  ’n reeks vygiespesies, meidestert, Namakwa-knikkerramshorinkies, drumsticks en verskillende gazania-spesies.

Louw sê om die beste kykervaring te geniet, word besoekers aangemoedig om hul uitstappies op sonnige dae met temperature van 18°C of hoër te beplan.

Een van die uitsigte by die Namaqua Nasionale Park. Foto: Sanparke

Hektye vir toegang tot die park is soos volg: Skilpad-ruskamp is oop van 07:30 tot 16:00, en Groenrivier-ruskamp van 08:00 tot 17:00.

Bewaringsfooie is van toepassing tot 31 Oktober. Volwassenes met ’n geldige Suid-Afrikaans identiteitsdokument betaal R58 per persoon en kinders van twee tot elf jaar R29. Volwassenes van die SAOG-streek betaal R116 en kinders R58. Internasionale besoekers betaal R121 per volwassene en R60 per kind jonger as elf jaar. 

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.