On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Plaasmoorde: Dirco ‘stel VSA-verslag met feite reg’

───   14:26 Thu, 21 Aug 2025

Plaasmoorde: Dirco ‘stel VSA-verslag met feite reg’ | News Article
Foto ter illustrasie: Johnny Hurst/Wikipedia

Die verwysing in die Amerikaanse departement van buitelandse sake se Menseregteverslag vir 2024 na die veiligheidsituasie in Suid-Afrika se landbougemeenskap bevat ’n “wanvoorstelling van die feite”.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) ontken in ‘n opdatering van sy aanvanklike verklaring oor dié verslag dat daar ‘n patroon is van opswepende rassistiese retoriek teen ’n spesifieke gemeenskap wat dan tot onder meer plaasmoorde sou lei. Die regering wil die rekord regstel en duidelikheid gee oor wat hy meen ’n onakkurate en verdraaide voorstelling van die feite is, sê Chrispin Phiri, woordvoerder van die minister, Ronald Lamola.

Suid-Afrika se buitelandse beleid word onder meer gerig op respek vir menseregte, soos vervat in die Grondwet, sê Phiri. “Binne hierdie raamwerk pak ons alle vorme van misdaad aan, wat ’n ernstige uitdaging bly vir al ons burgers, ongeag ras of waar hulle is. 

Chrispin Phiri. Foto: Facebook

“Die suggestie dat hierdie misdade ’n doelbewuste patroon van rassisties gemotiveerde aanvalle toon, soos deur die Amerikaanse verslag geïnsinueer, word nie deur die feite gerugsteun nie.” Die polisie se amptelike statistieke oor landelike veiligheid vir die vierde kwartaal van 2024/2025 (1 Januarie 2025 tot 31 Maart 2025) toon die werklike prentjie, sê Phiri. 

Altesaam ses moorde is in landbougemeenskappe aangemeld, en die profiel van die slagoffers wys dat hierdie misdade nie teen ’n enkele rassegroep gemik is nie. Drie van die slagoffers was werknemers op plase, een was ’n plaasbewoner, en twee was boere.

“Hierdie syfers beklemtoon dat geweldsmisdaad op die platteland alle mense raak wat op plase en in verwante landelike gebiede woon en werk. 

Veiligheid is prioriteit

Hoewel die verlies van enige lewe tragies is, toon die beskikbare data nie ’n patroon van optrede wat deur aanhitsende rassistiese retoriek teen ’n spesifieke gemeenskap gedryf word nie.” Volgens Phiri bly die regering toegewyd aan die implementering van ’n omvattende, multidissiplinêre benadering tot landelike veiligheid. 

“Ons nasionale strategie vir landelike veiligheid is ’n prioriteit en word toegepas in polisiekantoorgebiede wat landelike en landbougemeenskappe bedien. Teen die einde van die vierde kwartaal van 2024/2025 het 893 van die 900 geïdentifiseerde landelike polisiekantore (99%) die strategie ten volle geïmplementeer.” 

Dit sluit in die versterking van die polisie se kapasiteit en die bevordering van gemeenskapsbetrokkenheid in samewerking met sleutelbelanghebbendes, insluitend tradisionele leiers, kommersiële boereverenigings, vakbonde en blangegroepe soos AfriForum.

OFM Nuus cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.