South Africa
Regering besorg oor Russe se werwing van SA vroue─── 15:01 Mon, 25 Aug 2025

Die regering spreek ernstige kommer uit oor onlangse berigte van beweerde werksaanbiedinge op sosiale media wat Suid-Afrikaanse vroue tussen 18 en 22 jaar teiken om in Rusland te gaan werk.
Russiese maatskappye brei glo hul werwingspogings uit om jong vroue uit Afrika te lok om in Rusland te gaan werk. Dié land ervaar ’n arbeidskrisis, wat deels deur die oorlog in Oekraïne veroorsaak is, luidens berigte.
Die jongste fase van dié veldtog is toegespits op Suid-Afrika, ’n lid van die Brics-groep van opkomende ekonomieë, berig News24. Een van die hoofwerwers is glo die spesiale ekonomiese sone Alabuga in Tatarstan, wat militêre hommeltuie vervaardig.
’n Sjahed 136-aanvalshommeltuig, ook ’n kamikaze-hommeltuig genoem. Foto: X
Die ministerie in die presidensie vir vroue, jeug en persone met gestremdhede het Maandag (25/8) sy kommer uitgespreek oor bewerings dat vroue met vals werksaanbiedinge gelok word. “Hoewel ons erken dat Suid-Afrika met onaanvaarbaar hoë jeugwerkloosheid te kampe het, veral onder jong vroue, mag hierdie harde werklikheid nooit uitgebuit word met vals werksaanbiedinge nie,” sê die ministerie in ’n verklaring.
Cassius Selala, woordvoerder, sê die ministerie onderneem om met belanghebbendes in gesprek te tree, insluitend die Russiese ambassade in Suid-Afrika, Brics se vroue-sakealliansie en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking. Die doel is om die aard van die werksgeleenthede in Rusland ten volle te verstaan en duidelikheid aan die publiek te verskaf.
“Laat ons eendragtig bly in die strewe om die drome en waardigheid van Suid-Afrika se jong vroue te beskerm, terwyl ons ons pogings verskerp om ’n inklusiewe ekonomie te bou wat betekenisvolle geleenthede tuis bied,” lui die verklaring verder.
Cassius Selala. Foto: Facebook
In die werwingsveldtog word die Brics-handelsmerk en -netwerke gebruik, berig News24. In Mei het die Suid-Afrikaanse tak van Brics se vroue-sakealliansie ’n ooreenkoms onderteken om in 2026 sowat 5 600 werkers aan Alabuga en die konstruksiemaatskappy Etalonstroi Ural te verskaf.
Dit volg op advertensies wat reeds in Januarie deur die Brics-studentekommissie geplaas is vir konstruksie- en gasvryheidswerk by Alabuga, gerig op vroue tussen 18 en 22 jaar oud. Suid-Afrikaanse Instagram- en TikTok-beïnvloeders het dié poste begin bemark.
“Rusland het ’n tekort aan arbeidskrag,” sê Lebogang Zulu, voorsitter van die Vroue-alliansie, aan Bloomberg. “Suid-Afrika het ’n werkloosheidskrisis.”
Afrika-vroue glo mislei
By ’n onlangse geleentheid in Botswana het verteenwoordigers van Alabuga ontken dat werkers uit Afrika by hommeltuigproduksie betrokke is. Brics se studentekommissie en sy vroue-sakealliansie het ook ontken dat gewerfdes in militêre geriewe uitgeplaas sou word.
Die Alabuga-sone is egter al in drie navorsingsverslae deur organisasies soos die Institute for Science and International Security (ISIS) daarvan beskuldig dat hulle vroue uit Afrika mislei om in die aanleg te werk waar Sjahed-136-aanvalshommeltuie saamgestel word.
In 2024 is berig dat Afrikavroue teen hul sin in die aanleg gewerk het. Die hommeltuigaanleg en die Alabuga-ekonomiese sone is herhaaldelik deur Oekraïne gebombardeer – mees onlangs nog op 9 Augustus.
‘Ons doen ’n beroep op ons jeug om waaksaam te wees’
Volgens News24 sê Spencer Faragasso, ’n senior navorsingsgenoot by die Washington-gebaseerde Institute for Science and International Security (ISIS), die vroue word aan aanvalle blootgestel “omdat hulle nou deel is van ’n oorlog”.
Die Russiese arbeidsmark sukkel weens ’n verouderende bevolking, die verlies van honderdduisende mans aan die front in Oekraïne en stygende lone. Intussen is byna ’n derde van die Suid-Afrikaanse arbeidsmag werkloos.
Die ministerie beklemtoon dat internasionale werksgeleenthede wat deur die regering ondersteun word, uitsluitlik deur amptelike diplomatieke kanale en formele ooreenkomste tussen regerings gereguleer word. “Ons doen ’n beroep op ons jeug om waaksaam te wees. Voordat enige internasionale werk- of studiegeleentheid oorweeg word, moet die egtheid daarvan by die toepaslike owerhede bevestig word,” lui die verklaring.
OFM Nuus cvs/mvh