South Africa
Lid van veediefstaleenheid steel glo self halfmijoen rand se beeste─── 14:01 Mon, 01 Sep 2025

’n Beampte van die veediefstaleenheid op Standerton in Mpumalanga sou na verwagting Maandag (1/9) in die plaaslike landdroshof verskyn nadat hy aangekeer is vir R450 000 se veediefstal.
Die spreekwoordelike wolf (34) wat skaapwagter (oftewel beeswagter) geword het, is Vrydag in hegtenis geneem. AfriForum verwelkom dié inhegtenisneming, maar benadruk die betrokkenheid van ’n beampte van die veediefstaleenheid by so ’n misdaad skend die publiek se vertroue in die polisie en dié eenhede.
Die verdagte word verbind met veediefstal wat sedert minstens Maart vanjaar in die Standerton-Greylingstad-Perdekop-gebied gepleeg is, sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld en samesteller van ’n AfriForum-kursus oor die bekamping van veediefstal.
Grafika: AfriForum
“Die beweerde betrokkenheid van die polisielid by veediefstal is kommerwekkend aangesien die einste lid veediefstal in die gebied moes ondersoek (het), maar (blykbaar) sy posisie misbruik het om inligting te bekom om homself in die proses te verryk,” vertel Bekker.
Die omvang van die diefstal van beeste is boonop rede tot kommer. Luidens die polisie se statistiek is in die afgelope boekjaar landwyd meer as 53 600 beeste gesteel.
Dié misdaad plaas boere onder ernstige druk, aangesien hulle gedwing word om bykomende uitgawes aan te gaan om hul vee te beskerm, sê Bekker. Die aanstelling van privaat sekerheid en die installering van veiligheidskameras is enkele maniere waarop boere die beskerming van hul boerdery probeer bewerkstellig.
LEES OOK: Nuwe kamera straks plaasaanvallers se moses
Die stryd teen veediefstal is egter nie verlore nie, meen Bekker. “Ons is dankbaar vir elke polisielid wat volhard in die taak om misdaad – en in hierdie geval veediefstal – te bekamp.
“Samewerking tussen die SAPD en burgerlike inisiatiewe, soos AfriForum se plaas- en buurtwagte, is noodsaaklik in die stryd teen misdaad en ons sal nie oorgee nie,” sluit Bekker af.”