On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

‘Kill the Boer’: 189 bladsy dossier teen Malema moet sanksies teen hom werf

───   10:42 Thu, 04 Sep 2025

‘Kill the Boer’: 189 bladsy dossier teen Malema moet sanksies teen hom werf | News Article
Dr. Theo de Jager (uitvoerende direkteur van Saai), Kallie Kriel (uitvoerende hoof van AfriForum) en Ernst van Zyl (AfriForum se hoof van openbare betrekkinge) met die bekendstelling van die veldtog. Foto: AfriForum

’n Gedetailleerde “klagstaat” teen Julius Malema vorm die kern van ’n nuwe veldtog om internasionale sanksies teen die EFF-leier ingestel te kry in die stryd teen die dreunsang “Kill the Boer”.

Die sogenaamde Malema-dossier, van altesaam 186 bladsye, gaan nou internasionaal versprei word in ’n veldtog deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) om lande wêreldwyd amptelik te versoek om geteikende sanksies teen Malema in te stel.

Die dossier, wat vandeesweek op ’n mediakonferensie bekendgestel is, bevat ’n omvattende uiteensetting van Malema se haatspraak, aanhitsing tot geweld, die ernstige bewerings van korrupsie teen hom en voorbeelde van sy uitsprake ter ondersteuning van terreurorganisasies en terreurdade, sê AfriForum.

Die dossier bevat ook ’n omvattende verslag van adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, en sy span oor die bewerings van korrupsie teen Malema.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, met die ‘Malema-klagstaat’. Foto: AfriForum

Werner Human, ’n lid van AfriForum se direksie, gaan die Malema-dossier op ’n besoek van Solidariteit aan die VSA aan “kernrolspelers” oorhandig met wie hulle in Washington gaan vergader.

AfriForum sê hy gaan ook later vanjaar ’n afgevaardigde na Europa stuur om daar steun onder besluitnemers te werf vir geteikende sanksies teen Malema. “Saai en AfriForum sal daarbenewens ook plaaslik met verskeie lande se ambassades in gesprek tree rakende optrede teen Malema.”

Dié veldtog word volgens die organisasies genoodsaak nadat die Konstitusionele Hof “Malema se aanhitsing tot geweld deur dié dreunsang” in praktyk gewettig het, terwyl pres. Cyril Ramaphosa “steeds volstrek weier om hierdie bevordering van haat te veroordeel”.

">

Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, sal dié organisasie sy jare lange doel voortsit om te verseker dat Malema nie net plaaslik vervolg word nie, maar dat sy dade ook buitelandse aan die kaak gestel word sodat hy ook in die buiteland die gevolge moet dra.

Dr. Theo de Jager, uitvoerende direkteur van Saai, benadruk dat plaaslike boere onder ernstige druk verkeer. “Die boeregemeenskap ly al jare lank onder weghol-misdaad op plase, aanhitsing tot geweld soos sigbaar in die ‘Kill the Boer, kill the farmer’-dreunsang, en politieke verguising deur drognarratiewe oor gesteelde grond en uitbuiting van arbeid – en dit alles omdat daar geen gevolge vir die opswepers is nie.”

Julius Malema. Foto: X

Hy sê die regstelsel het boere tot op die hoogste vlak gefaal. “Daarom is die professionele samestelling van ’n misdaaddossier en die internasionalisering van ons soeke na geregtigheid so ’n belangrike stap.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is vol vertroue dat die internasionale versoek om geteikende sanksies teen Malema vrugte sal afwerp. 

“Die feit dat Brittanje reeds onlangs geweier het om ’n visum aan Malema uit te reik, sowel as die Amerikaanse Magnitsky-wetgewing wat geteikende sanksies kan toepas teen individue wat terreur ondersteun, menseregte skend en korrup is, is ’n aanduiding dat internasionale sanksies teen Malema en ander wat ‘Kill the Boer’-dreunsing ’n sterk moontlikheid is,” sê hy.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.