On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Anny
Listen Live Streams

South Africa

Ruda se brief aan minister ná peetkind se sluipmoord

───   14:34 Mon, 08 Sep 2025

Ruda se brief aan minister ná peetkind se sluipmoord | News Article
Bouwer van Niekerk. Foto: X

Ná die moord op haar peetkind die prokureur Bouwer van Niekerk smeek die TV-joernalis Ruda Landman die nuwe, waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia: “Praat asseblief met ons”.

Landman rig ’n ope brief, wat deur News24 gepubliseer is, aan Cachalia waarin sy sê sy “skryf in wanhoop”. Sy verwys na ’n meningstuk wat Van Niekerk in Maart 2023 vir dié nuuswebblad geskryf het ná die moorde op sy medelikwideerder Cloete Murray en sy seun Thomas. 

“Hy het gewaarsku dié wat bereid is om korrupsie met diep, verrotte wortels te ondersoek, trotseer dikwels die dodelikste winde.” Vrydag is Van Niekerk self in sy kantoor doodgeskiet deur mense wat hulle as kliënte voorgedoen het. Sy dood, net soos dié van Murray en Cloete, het die publiek geruk, sê Landman.

Ruda Landman. Foto: X

Sy voeg nog name by, dié van mense soos Simnikiwe Mapini, Zenzele Sithole, Simangaliso Zwane, Pamela Mabini en Mpho Mafole, wat almal vermoor is terwyl hulle korrupsie en misdaad probeer ontbloot het. Adv. Coreth Naudé het ’n sluipmoordpoging oorleef.

“Hierdie gevalle dien as grusame voorbeelde. In sommige gevalle was daar inhegtenisnemings, maar in verskeie ander het niks gebeur nie. Die Murray-moorde is steeds nie nader aan ’n oplossing nie.

“Wat moet Suid-Afrika hiervan maak, Meneer die Minister? U het pas hierdie kritieke rol oorgeneem. Wat gaan hierdie keer met die ondersoek gebeur?

Sal sy seun ooit weet?

“Sal ’n 12-jarige seun ooit weet wie sy pa vermoor het – en belangriker nog, wie die opdrag gegee het? Sal die Murray-moorde uiteindelik behoorlik ondersoek word? Ons het u nodig. Ons het die polisie en die regstelsel nodig, van die Valke tot die Spesiale Ondersoekeenheid. 

“Ons moet weer kan vertrou. Maak dit asseblief moontlik. Die mafia-staat is deur mense geskep. Mense kan dit ook afbreek. U kan en móét die leiding neem.”

Intussen het die Johannesburgse Vereniging van Advokate ook dringende optrede gevra teen aanvalle op regspraktisyns. Die vereniging versoek in ’n verklaring dié misdade moet as prioriteit geklassifiseer word en vra dat ’n multi-agentskaptaakspan die moorde ondersoek. 

Die sluipmoord op Van Niekerk in sy kantoor ná herhaalde doodsdreigemente word deur die vereniging ’n geteikende aanval en ’n belediging vir geregtigheid genoem. 

“Suid-Afrika het ’n grondwetlike en internasionale plig om prokureurs te beskerm. Van Niekerk was ’n gerespekteerde insolvensieprokureur en toegewyde pa.”

Die vereniging betuig sy meegevoel met Van Niekerk se familie en kollegas.

Bron: News24

OFM Nuus cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.