On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

South Africa

Groenlig vir Netflix se Beauty and the Bester

───   14:52 Fri, 12 Sep 2025

Groenlig vir Netflix se Beauty and the Bester | News Article
Netflix se lokfilm van die dokumentêr op hul X-rekening. Foto: Skermgreep

Die nuwe dokumentêre reeks Beauty and the Bester kan vanaf Vrydag (12/9) op Netflix uitgesaai word nadat die hooggeregshof in Pretoria die groenlig daarvoor gegee het.

Die regspanne wat Thabo Bester en dr. Nandipha Magudumana verteenwoordig, het hul teleurstelling uitgespreek nadat die hof hul dringende aansoeke van die hand gewys het om die uitsending te keer. Regter Sulet Potterill het Magudumana se aansoek van die rol geskrap en Bester se saak van die hand gewys. 

Sy het bevind dat daar geen werklike dringendheid bestaan nie en dat enige moontlike skade ná die uitsending deur laster- of skadevergoedingseise hanteer kan word. Die hof het beslis dat vooraf beperking nie die gepaste regsmiddel is nie.

Die bemarkingsplakkaat vir die reeks. Foto: https://www.imdb.com/title

Hierdie uitspraak maak die pad oop vir Netflix om die dokumentêr Vrydag vry te stel.

Buite die hof het Bester se prokureur, Courage Morero, gesê die uitspraak versuim om sy kliënt se regte te beskerm voor sy komende verhoor in Bloemfontein. “Ons saak is van die hand gewys op grond daarvan dat die hof meen ons kliënt het voldoende regsmiddele tot sy beskikking in ’n latere stadium. 

“Ons is uiters teleurgesteld, want ons glo nie dat skadevergoeding in ’n latere stadium die werklike skade wat ons kliënt nou aangedoen word, sal herstel nie,” het Morero gesê. Hy het gewaarsku dat die beslissing Bester blootstel aan die voortgesette openbare uitbeelding van hom as ’n ontsnapte gevangene, ten spyte daarvan dat die saak nog nie in die hof getoets is nie.

Magudumana ‘gefrustreerd’

Magudumana se prokureur, Dianah Ried, het gesê haar kliënt is gefrustreerd oor hoe haar saak hanteer is. Sy het volgehou dat kommersiële ooreenkomste met die produksiemaatskappy Storyscope geïgnoreer is. Ried het ook kommer uitgespreek oor die deelname van Magudumana se pa aan die dokumentêr, wat volgens haar in stryd is met vorige versekeringe aan haar kliënt.

Die uitspraak volg op ’n soortgelyke beslissing in Maart 2024, toe die hooggeregshof in Johannesburg ’n dringende poging van Bester en Magudumana van die hand gewys het om te keer dat Showmax die dokumentêr Tracking Thabo Bester vrygestel het.

Albei regspanne het aangedui dat hul kliënte sal voortgaan om hul regte teen toekomstige produksies te verdedig.

Bron:  Jacaranda FM

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.