On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Gevaarlike bestuurder in KZN vas danksy verkeershoof, publiek se spanwerk

───   11:54 Mon, 22 Sep 2025

Gevaarlike bestuurder in KZN vas danksy verkeershoof, publiek se spanwerk | News Article
’n KI-voorstelling van die voortsnellende voertuig.

Die padverkeerinspektoraat (RTI) in KwaZulu-Natal loof die motoriste wat kragte saamgespan met wetstoepassers om ’n vermeende dronkbestuurder aan te keer voor hy medebestuurders se lewe kon eis.

Die oënskynlik beskonke bestuurder het Sondagaand (21/9) chaos veroorsaak op die N2 by Mtubatuba aan KwaZulu-Natal se noordkus, sê Siboniso Duma, LUR vir vervoer en menslike nedersettings. Drie lede van die Mavimba-familie het drie weke gesterf in ’n gru-botsing op dieselfde stuk pad.

“Die motoris het gejaag en ander voertuie verbygesteek op ’n aanmekaar wit streep, en die feit geïgnoreer dat dit gevaarlik asook onwettig is om dit te doen,” sê Duma. 

“Hy het op die aankomende verkeer afgepyl en amper gebots met die op-en-wakker provinsiale hoofinspekteur, Thulani Mthembu.”

Die provinsiale hoofinspekteur, Thulani Mthembu. Foto verskaf

Mthembu het die bestuurder agternagesit en hom sowat 1 km verder tot stilstand gedwing. ’n Asemtoets is uitgevoer waarmee vasgestel is die motoris was drie keer bo die wettige bloedalkoholvlak, wat minder as 0,05 g/100 ml in Suid-Afrika is.

Hy word aangehou in die KwaMsane-polisiekantoor en sal na verwagting voorkom in die plaaslike landdroshof op aanklagte van bestuur onder die invloed van drank en roekelose en nalatige bestuur.

“Ons loof die motoriste en inwoners wat saam met ons hoogs doeltreffende, energieke en toegewyde span van die padverkeerinspektoraat gewerk het in die inhegtenisneming van die wanordelike motoris,” sê Duma. 

‘Misterieuse vrylating’ ondersoek

Hy het onderneem om die hofverskynings van vermeende dronkbestuurders by te woon om die RTI-span te ondersteun.

Intussen sal hy ondersoek instel na die “misterieuse” vrylating van ’n vermeende dronkbestuurder, wat vasgery het in meer as vyf motors op die N3 naby Pietermaritzburg. Hy het op die vlug geslaan en na bewering ’n RTI-beampte aangerand.

“Die inhegtenisneming van 93 (vermeende dronkbestuurders) die naweek en ’n toename in die getal inhegtenisnemings tot 293 sedert Augustus… onderstreep die doeltreffendheid en toewyding van die RTI,” meen Duma.

OFM Nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.